SA A-span baljaar teen futlose Franse

Ox Nché duik oor vir sy skitterdrie na hy 50 meter genael het (Foto: GB Jordaan)

Sonder struktuur, vol foute, met ʼn geel kaart en ook ʼn rooie vir met ʼn skouer in die losskrum instorm. En o ja, ʼn oorwinning van48-28 vir die SA A-span oor die Franse Barbarians.

Dit wat Vrydagaand in die Orlandostadion opgedis is laat ʼn mens wonder of die twee wedstryde die afgelope twee Vrydagaande veel waarde by die nasionale keurders gedra het.

Dit was swakker rugby as verlede jaar s’n teen die Engelse A-span, die Saxons. Die  Baa-baas se groep was ná hul lang seisoen en amper twee weke se gekuier in Suid-Afrika duidelik nie lus vir ernstige rugby nie en die keerwerk, benewens die gebrek aan ʼn verdedigingstruktuur by dié saamgeflanste span, was nie goed genoeg vir die vlak nie.

Die Groentruie het ses keer in die los wedstryd gaan druk en die Baa-baas vier keer.

Die SA A-span het veral aanvanklik die bal probeer lug gee, en daar was deurgaans darem pogings om aan die hardloop te gaan.

ʼn Gebrek aan afronding, wat swak hanteerwerk en powere opsies insluit, en heelwat negatiewe spel deur die vrotterige Franse span, het gemaak dat die wedstryd nie lank onthou sal word nie.

Die rustydtelling was 24-14 in die SA A-span se guns, en hulle het vir 41 minute met net 14 man gespeel nadat die slot Ruan Botha ʼn minuut voor rustyd met ʼn rooi kaart afgejaag is nadat hy in ʼn losskrum met sy skouer kontak met ʼn Fransman se kop gemaak het.

Hier in die laaste 20 minute of so het dit gewemel van die voorspelers tussen die agterspelers soos hulle hul werk by die afbreekpunte afgeskeep het.

♦  Daar was wel ʼn klompie oomblikke wat onthou sal word.

Chris Cloete druk een van sy twee drieë (Foto: GB Jordaan)

Die hoogtepunt was die lopie van die SA A-span se bonkige loskop, Ox Nché, wat die bal letterlik op die kalkstreep van die middellyn van Ruan Botha ontvang het. Die aangee was perfek na Ox, reeds in die gaping, en hy’t gewys dat sy vaart deur min stutte ter wêreld nagedoen kan word.

Seabelo Senatla het so ietsie van sy vaart kon wys, Chris Cloete het lekker gedryf, twee drieë gedruk maar is te veel gestraf; en Warrick Gelant se vroeë aftrappe, die eerste drie ná 50 m en twee minute en sy latere aanvalle met blote vaart, was lekker.

Maar dankie tog daar is nie nog so ʼn wedstryd vir vanjaar geskeduleer nie.

Puntemakers –

SA A-span (24) 48: Drieë: Warrick Gelant 2, Chris Cloete 2, Ox Nché, Lionel Mapoe. Doelskoppe: Fred Zeilinga 5, Jano Vermaak. Strafdoele: Zeilinga 2.
Franse Barbarians (14) 28: Drieë: Fabrice Estebanez, Lucas Dupont, Marco Tauleigne, Louis Dupichot. Doelskoppe: Frédéric Michalak 3, Anthony Belleau

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.