SA A-span gaan oor veel meer as wen

Ruan Combrinck – kans om te wys hy is weer op sy beste (Foto: GB Jordaan)

Kom ons praat bietjie oor die SA A-span wat Vrydagaand die Franse Barbarians in die Moses Mabhida-stadion in Durban aandurf.

Gaan ondersoek maar die dagblaaie, luister na die radiostasies, hoor jou vriend in die koffiekamer.

Wat hoor jy oor die SA A-span? Niks, nè?

Maar ons is verkeerd om nie daaroor te praat nie.

Vandeesweek is geskryf dat die insluiting van heelagter Lwazi Mvovo en Jano Vermaak op skrumskakel onnodig is. Dit is so. Albei is oor 30 en ʼn A-span gaan oor ‘bou’ eerder as blokke vul.

Moenie ʼn fout maak nie, Johan Ackerman het ʼn goeie span gekies. En hulle behoort ook te wen, maar wat beteken dit?

Ons gaan nie hierdie uitslag onthou nie; niemand gaan nie.

Tog kan ons na sekere individue se spel kyk. Ruan Combrink, Lionel Cronjé en Thomas du Toit en ʼn hele paar ander kan ʼn Bokspan meer versterk as verswak. Handré Pollard is op die bank. Vir ons rugby moet hy altyd eerder staan as sit.

Dan, ʼn ander ding. Ackers gaan bes moontlik eendag die Bokke brei. Wat hy Vrydagaand gaan vermag met ʼn groep spelers wat hy in ʼn kort tyd moes saamsnoer, gaan hom geen skade berokken nie.

Is die resultaat en veral die standaard nie met die wegspring waffers nie, het hy meer rede tot verskoning as Allister Coetzee verlede jaar. Rome is nie in ʼn dag gebou nie, en ʼn span ook nie.

Maar, nog meer as net wen: as Ackers die span binne ʼn week in ʼn eenheid kon brei wat net speel wat voor hulle is, en daar is so ʼn tikkie lekkerte in hulle hardloopwerk en vaardigheid, sal dit boekdele spreek oor wat ʼn mens eintlik al weet. Dit is dat hy kán afrig.

Spanne –

Suid-Afrika A: 15 Lwazi Mvovo, 14 Ruan Combrinck, 13 Juan de Jongh (kapt.), 12 Harold Vorster, 11 Makazole Mapimpi, 10 Lionel Cronjé, 9 Jano Vermaak, 8 Sikhumbuzo Notshe, 7 Ruan Ackermann, 6 Uzair Cassiem, 5 Ruan Botha, 4 Andries Ferreira, 3 Wilco Louw, 2 Franco Marais, 1 Thomas du Toit. Bank: 16 Ramone Samuels, 17 Ox Nché, 18 Trevor Nyakane, 19 Jason Jenkins, 20 Andisa Ntsila, 21 Dewaldt Duvenage, 22 Fred Zeilinga, 23 Francois Venter.

Franse Barbarians: 15 Louis Dupichot, 14 Gabriel Lacroix, 13 Jonathan Danty, 12 Jean-Baptiste Dubié, 11 Arthur Bonneval, 10  Frédéric Michalak (kapt.), 9 Yann Lesgourgues, 8 Marco Tauleigne, 7 Judicaël Cancoriet, 6 Anthony Jelonch, 5 Arnaud Mela, 4 Alexandre Flanquart, 3 Malik Hamadache, 2 Rémi Bonfils, 1 Khatchik Vartanov. Bank: 16 Anthony Etrillard, 17 Clément Ric, 18 Tommy Raynaud, 19 Felix Lambey, 20 Romain Sazy, 21 Jean-Baptiste Pejoine, 22 Anthony Belleau, 23 Clément Poitrenaud.

Afskop: 16:45

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.