SA A-span in twee sokkerstadions teen die Franse Barbarians

Die Suid-Afrikaanse A-span se twee wedstryde vanjaar teen die Franse Barbarians sal in Junie in twee sokkerstadions gespeel word.

Die Moses Mabhidastadion in Durban en die Orlandostadion in Soweto sal die twee wedstryde op twee Vrydagaande, onderskeidelik 16 Junie en 23 Junie, aanbied – in albei gevalle die aand voor die twee toetse teen Frankryk op onderskeidelik Kingspark en Ellispark.

In die geval van die eerste wedstryd, wat op Vrydagaand 16 Junie in die Moses Mabhidastadion gespeel word, kan dit insiggewend wees in die lig van die volgehoue druk van die munisipaliteit op die Sharks om van Kingspark die drie blokke of so soontoe te skuif.

Die wedstryd word juis met behulp van die eThekwini-munisipaliteit aangebied wat sedert die 2010-Sokkerwêreldbeker poog om die Sharks van Kingspark af soontoe te lok om die koste van onderhoud vir die stadion te help dek.

Minder as ʼn jaar gelede het die vorige uitvoerende hoof van die Sharks, John Smit, gesê geen skuif na die sokkerstadion sal gemaak word tensy daar ekonomiese en finansiële meriete daarin is nie.

Kingspark is sedert 1958 die hoofkwartier van Natal- en nou Sharksrugby..

♦  In die geval van die tweede sokkerstadion wat die Franse Barbarians se wedstryd teen Suid-Afrika se naasbestes sal huisves, kan net gehoop word dat dit so suksesvol sal wees as dié stadion in Soweto se kennismaking met groot rugby in 2010.

In Mei 2010 het die Bulls hulle wedstryde na die Orlandostadion verskuif omdat Loftus ʼn veld vir die Wêreldbekertoernooi was.

Meer as 80 000 mense het in die halfeind van die Bulls teen die Crusaders en die eindstryd teen die Stormers opgedaag op wat twee pragtige dae was. Die bande is versterk tussen die Soweto-inwoners en die Bulls-ondersteuners wat voor en ná albei wedstryde in die plaaslike mense se huise ingenooi en getrakteer is.

♦  Hierdie wedstryd op 23 Junie sal deur die Goue Leeus en die Blou Bulle se kragmeting in die nuwe Supersport-reeks voorafgegaan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.