SA A-span se twee ‘ou’ manne maak nie sin nie

Andries Ferreira – Suid-Afrika se slotdiepte is goed (Foto GB Jordaan)

Die enigste werklike kritiek teen die SA A-span wat Vrydagaand in die Moses Mabhida-stadion in Durban teen die Franse Barbarians speel, is die insluiting van twee ‘ou’ manne.

Jano Vermaak, 32, is op skrumskakel ongetwyfeld nog goed genoeg vir toetsrugby en is glo nog in die toetsprentjie. Miskien is die doel van sy insluiting om hom wedstrydfiks te hou in geval hy opgeroep moet word in ʼn posisie waar Suid-Afrika min diepte het.

Of dalk is dit om hom ook buite sy franchise-verband te sien speel, waar Dewaldt Duvenage meermale in die Stormers se beginspan was en Vermaak op die bank? Indien dit so is, goed en wel. Andersinds maak dit nie sin nie.

Terloops, dié keer is Duvenage op die bank.

♦  En dan Lwazi Mvovo? Op heelagter? Op 31 is hy nie meer ʼn man vir die toekoms nie. Heelagter is wel ʼn posisie waarmee hy vertroud is maar nie naastenby so tuis in is as toe hy op sy beste op vleuel was nie.

Is hy werklik nog in die prenjie, en dit as heelagter? Is hy, anders as Vermaak, nog goed genoeg?

Wat van SP Marais? Op 28 is hy ook nie meer ʼn jong speler nie, maar hy het soos die losskakel Lionel Cronjé, ook 28, ʼn baie goeie seisoen agter die rug. Cronjé is wel vir die A-span gekies, maar Marais is nie vir sy spel beloon nie.

Die afrigter Johan Ackermann kon natuurlik net kies uit die A-span-groep wat aan hom gegee is, maar iewers in  die groepkeuse was daar ongetwyfeld kortsigtigheid.

SA A-span – 

Lwazi Mvovo, Ruan Combrinck, Juan de Jongh (kapt.), Harold Vorster, Makazole Mapimpi, Lionel Cronjé, Jano Vermaak, Sikhumbuzo Notshe, Ruan Ackermann, Uzair Cassiem, Ruan Botha, Andries Ferreira, Wilco Louw, Franco Marais, Thomas du Toit. Bank: Ramone Samuels, Ox Nche, Trevor Nyakane, Jason Jenkins, Andisa Ntsila, Dewaldt Duvenage, Fred Zeilinga, Francois Venter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

B-man ·

Vervang Juan met Meneer Venter, nie net as senter nie, maar kaptein ook! De Jongh is ook oor die muur…

Jakkalas ·

Mens gaan nooit almal tevrede stel met spankeuses nie. Ek stel wel saam met B-man.

Ondersteuner ·

Sal net wil sien dat die 2 groot senters Odendaal en Esterhuizen ook ‘n kans kry. Hulle verdien ‘n kans.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.