SA aandag dalk sterker op Sesnasies gevestig

Brendan Venter – reusetaak op sy skouers. (Foto: YouTube)

Brendan Venter – reusetaak op sy skouers. (Foto: YouTube)

Suid-Afrikaners speel `n rol by vyf van die deelnemers aan vanjaar se Europese Sesnasiesreeks en die land se aandag sal dalk sterker as in die verlede op die reeks gevestig wees.

Die afgelope mislukkings van die Springbokspan kan ook `n rol daarin speel.

Wallis, met `n toenemend afwysende houding teenoor “huursoldate”, is die enigste span wat in hierdie opsig generlei belangstelling in Suid-Afrika gaande sal maak nie.

Italië toon die sterkste bande met Suid-Afrika.

Die Springbok Brendan Venter was pas in die nuus toe dit bekend geword het dat hy die pos as verdedigingsafrigter van die Italianers aanvaar het.

Die feit dat dié span in die verlede grootliks die melkkoei van die reeks was, dui op die geweldige uitdaging wat Venter voor die deur staan.

Marius Goosen, wat onder meer Superrugby vir die Bulls gespeel het, is sedert November as hulpafrigter by die span betrokke. Hy rig sedert verlede jaar Benetton Treviso in die Europese Pro12-reeks af.

Dries van Schalkwyk (agsteman), `n gewese kaptein van die Boland, en Braam Steyn (flank), `n gewese SA o.20-speler, het Italië reeds in onderskeidelik agt en ses toetse verteenwoordig.

Die stut Dario Cristelini (15 toetse) is op Kemptonpark gebore.

Huw Jones – sleutelrol vir Skotland. (Foto: bbc.com)

Huw Jones – sleutelrol vir Skotland. (Foto: bbc.com)

Skotland

Skotland is volgende op die lys met vier spanlede wat hul rugby in Suid-Afrika geleer het.

Josh Strauss (agsteman, nege toetse) is `n gewese kaptein van die Lions en die Goue Leeus. Dis onder sy leiding dat die Leeus in 2011 hul lang Curriebekerdroogte verbreek het.

Die gewese SA o.20-stut Allen Dell en die Stormers-senter Huw Jones het die Skotte dusver elk in drie toetse verteenwoordig.

Hoë verwagtinge word veral van Jones gekoester om `n sterk rol in Skotland se vertoning in die reeks te speel.

Cornell du Preez (losvoorspeler), nog `n SA o.20-speler wat Superrugby vir die Kings gespeel het, is `n nuweling in die groep en het nog nie toetservaring nie.

`n Groot teleurstelling vir Suid-Afrikaners is die nekbesering van die gewese Cheetahs-stut WP Nel, wat al in 15 toetse vir Skotland gespeel het. Die Loeriesfonteiner van geboorte is as `n sekere keuse vir die Britse en Ierse Leeus se toer later vanjaar na Nieu-Seeland beskou.

Sherylle Calder – het Springbokke die Webb Ellisbeker in 2007 help wen. (Foto: CONQA Sport)

Sherylle Calder – het Springbokke die Webb Ellisbeker in 2007 help wen. (Foto: CONQA Sport)

Engeland

In die Engelse kamp is die kollig onlangs deur die gewese Protea-hokkiespeler in 50 toetse, Sherylle Calder, gesteel.

Calder, die Rose se visieafrigter wat in oog-hand-koördinasie spesialiseer, het gewaarsku dat die gebruik van slimfone rugbyspelers se visie verskraal en nadelig op hul spel inwerk, en dat hulle minder aandag daaraan moet bestee as hulle die hoogste sport wil bereik.

Sy was in 2007 deel van die Suid-Afrikaanse steunspan toe Jake White se Springbokke die Rugbywêreldbeker (RWB) gewen het.

Eddie Jones, wat destyds `n hulpafrigter van die Bokke was, glo Bryan Habana se baie onderskepdrieë destyds was te danke aan die skaafwerk wat sy aan sy visie gedoen het. Om dié rede het hy haar dienste vir Engeland tot met 2019 se RWB-toernooi beklink.

Mike Williams, `n gewese Curriebekerspeler van die Blou Bulle, wat in die Engelse groep vir die reeks is, is nie vir Saterdag se toets teen die Franse op Twickenham gekies nie.

CJ Stander – dalk `n Leeu teen All Blacks. (Foto: rugbyLAD.com)

CJ Stander – dalk `n Leeu teen All Blacks. (Foto: rugbyLAD.com)

Frankryk

Die Hane het wel `n nuwe beleid om nie meer buitelandse spelers vir die nasionale span te kies nie, maar dit sluit nie diegene uit wat reeds daar is nie, en die Suid-Afrikaners Scott Spedding (heelagter, 18 toetse) en Bernard le Roux (flank, 24 toetse) is weer nader getrek.

Spedding het Superrugby vir die Sharks gespeel, en Le Roux Curriebekerrugby vir die Boland.

Ierland

CJ Stander, `n gewese losvoorspeler van die Bulls en Blou Bulle, is die enigste Suid-Afrikaner wat in die Ierse Sesnasiesgroep oorgebly het.

Hy word insgelyks as `n sterk aanspraakmaker beskou op insluiting in die Leeutoerspan wat die All Blacks gaan aandurf.

Hanno Dirksen – klop aan Walliese deur. (Foto: TwiCopy)

Hanno Dirksen – klop aan Walliese deur. (Foto: TwiCopy)

Wallis

Heelwat ophef is in die Walliese media gemaak toe David Bulbring, `n gewese slot van die Bulls en die Kings, `n jaar gelede by sy aankoms om in Wallis te speel, verklaar het dat dit sy oogmerk is om in 2019 se RWB-toernooi vir die Drake uit te draf.

Hy het in dieselfde onderhoud gesê dat die sterk pond en euro nog baie Suid-Afrikaanse spelers na Europa sal lok.

Nog twee Suid-Afrikaanse slotte, George Earle en De Kock Steenkamp, se uitgesproke ambisie om vir Wallis te speel, is opgerakel deur die media wat onthuts was dat spelers “wat in die eerste plek agter geld aan is” sodat die Springboktrui blykbaar nie meer vir hulle saak maak nie, die “vermetelheid” het om Wallis se trui te wil dra.

Sterk steun vir die verlenging van die verblyfkwalifikasie tot vyf jaar is uitgespreek, pleks van die huidige drie, wat glo`n bespotting van die spel maak.

Hanno Dirksen, die seun van die Gasel-losskakel Hansie Dirksen en kleinneef van die Springbok-vleuel Corra Dirksen, is die afgelope tyd as `n sterk aanspraakmaker op insluiting in die Walliese span genoem.

Hy speel vir die streekspan Ospreys (Swansea), en is een van die voorste driedrukkers in die streek se bestaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Christo Visagie ·

Ons moet eerder in die Sesnasie reeks speel, sowel as die Euro kompetisie vir klub spanne,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,moeg vir die Super rugby kompetisie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.