SA afrigter se Moeflons neem die voortou

Andrew Binikos (Foto: SKZNSRA)

Die Suid-Afrikaanse afrigter Andrew Binikos se Moeflons het Saterdag die voortou in Afdeling 2 Suid van Rugby Europa se reeks geneem.

Ciprus het Slowakye in Piestany met 38-6 verslaan om albei sy wedstryde tot dusver met bonuspunte te wen.

Binikos is die hoof van die Sharks-KZN-Suid-rugbyakademie (SKZNSRA) op Port Shepstone, en het toetsrugby vir Ciprus gespeel.

Christian Gergiou, die Moeflons se buitesenter, het laat in die tweede helfte drie drieë binne 11 minute gedruk om die telling van 17-6 tot 38-6 te laat opskiet.

In die reeks om die Rugby Europa-trofee moes Switserland alles uithaal om die veel swakker geagte Moldawië in Kisjinef met 22-20 te troef.

Hy was rustyd met 8-15 agter.

Twee bonuspuntseges tot dusver plaas die Edelweisse eweneens boaan dié afdeling se punteleer.

Donovan O’Grady, ʼn gewese skrumskakel en kaptein van die Limpopo Blou Bulle se o.21-span, het sy buiging vir die Switsers gemaak.

In Vilajoiosa het Spanje die besoekende Brasiliaanse toerspan in die laaste wedstryd op sy Europese besoek met 67-28 opgedreun.

Vroeër het De Wet van Niekerk, Brasilië se Suid-Afrikaans gebore regtervleuel, een van die Tupi’s se drieë gedruk in die Suid-Amerikaners se heel eerste rugbysege in Europa.

Die besoekers het hul wedstryd teen België in die Koning Boudewyn-stadion in Brussel met 23-19 gewen.

Dit was Van Niekerk, ʼn produk van die Stellenbosse rugbyakademie, se tweede drie in 11 toetse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.