SA afrigter se Simbas vat Elgonbeker huis toe

Kenia, wat deur die Suid-Afrikaner Jerome Paarwater afgerig word, het Saterdag met ʼn gelykop uitslag die Elgonbeker by Uganda afgeneem.

Die twee spanne het op die RFUEA-veld in Nairobi met 33-33 gelykop gespeel, maar die Simbas het vroeër in Kampala die eerste botsing in die reeks met 23-18 gewen.

Dit word jaarliks op ʼn tuis-en-weg-grondslag tussen die twee buurlande uitgespook. Die beker heet na ʼn bergspits op die grens tussen die twee.

Saterdag se wedstryd was ook die eerste in vanjaar se vergrote Afrikareeks om die nuwe Goue Beker, wat insgelyks die vasteland se deelnemer aan die volgende Rugbywêreldbeker sal bepaal.

Die gedeelde ligapunte is dus slegte nuus vir die twee vernaamste uitdagers in hul strewe om Namibië as Afrikakampioen te onttroon.

Die reeks is van vier tot ses spanne uitgebrei, met Zimbabwe wat afskuiwing vrygespring het, en Senegal en Tunisië wat bevorder is.

Zimbabwe het Saterdag die span wat hom onder die ou bedeling sou vervang, Senegal, in die Iba Mar Diop-stadion in Dakar, Senegal, met 28-16 getroef.

Dit plaas hom ná die eerste weekronde boaan die punteleer.

Namibië en Tunisië se Afrikabeker-seisoen begin eerskomende Saterdag wanneer hulle in Monastir, Tunisië, kragte meet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.