SA afrigter se span se droom lê aan skerwe

Johann van Graan

Die droom van ʼn Suid-Afrikaanse afrigter se span om die Pro14-kampioenskap ʼn vyfde keer in te palm, lê aan skerwe ná ʼn strawwe halfeindstryd tussen twee Ierse provinsies.

Leinster, die heersende kampioen, het Munster, met die gewese Springbokhulpafrigter Johann van Graan aan die stuur, Saterdag in die RDS-arena, Dublin, met 24 – 9 verslaan (rustyd 9 – 6).

Die wenner kom Saterdag in die Celtic-stadion, Glasgow, teen Glasgow Warriors te staan, wat Vrydag op sý beurt nóg ʼn Ierse provinsie, Ulster, op Scotstoun, Glasgow, met 50 – 20 verniel het (rustyd 24 – 3).

Leinster het dié reeks die afgelope 18 jaar al vyf keer gewen – meer as enige ander span – terwyl Glasgow net een keer daarin kon slaag.

Munster het die kampioen aanvanklik deeglik in toom gehou, maar moes op die ou end voor die volgehoue druk swig. Die blink vertoning van die plaasvervanger-losskakel Jonathan Sexton het eweneens ʼn beduidende bydrae tot die opswaai gelewer.

Die wenspan se oorheersing by die afbreekpunte het in ʼn groot mate die grondslag vir sy sege gelê.

Die telling was ná 50 minute net 12 – 9 in Leinster se guns (alles strafdoele), maar ná twee drieë vir die voorloper, waarvan een verdoel is, was die koeël deur die kerk.

In Vrydag se eerste halfeindstryd het Glasgow uit die staanspoor oorheers om Ulster oortuigend met 50 – 20 te verslaan.

Die tuisspan se Skotse toetslosskakel Adam Hastings was die generaal van sy span se oorwinning en het op die koop toe 15 punte met ses doelskoppe en ʼn strafdoel bygedra.

Hy is die seun van die beroemde Skotse en Leeu-heelagter en -kaptein Gavin Hastings.

Kyle Steyn, wat Curriebekerrugby vir Griekwas gespeel en Skotland in sewesrugby verteenwoordig het, het een van die wenspan se sewe drieë gedruk. Hy was vroeër vanjaar ʼn lid van die Skotse Sesnasiesgroep, maar het nie ʼn speelbeurt gekry nie.

Die Springbok Marcell Coetzee het ʼn drie vir Ulster gedruk.

Die puntemakers –

Glasgow Warriors 50 (24) – Drieë: Tommy Seymour (2), Ali Price, Rob Harley, Kyle Steyn, Pete Horne, George Horne. Doelskoppe: Adam Hastings (6). Strafdoel: Adam Hastings.

Ulster 20 (3) – Drieë: Marcell Coetzee, Rob Herring, Michael Lowry. Doelskop: Billy Burns. Strafdoel: John Cooney.

Leinster 24 (9) – Drieë: Sean Cronin, James Lowe. Doelskoppe: Ross Byrne. Strafdoele: Ross Byrne (4).

Munster 9 (6) – Strafdoele: Joey Carbery (3).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Attie. ·

Ek kan nie bekostig om sport te kyk nie. Ek ken nie drie Springbokspelers se name nie. Ek aanbid nie koning rugby nie. Ek glo idiote jaag ‘n rugbybal. Hoekom geen hulle vir elke ou sy eie bal nie, want ek is oortuig hulle kan dit bekostig of kos balle so duur.

Gert van Wierdapark ·

Sy drome verander toe in n nagmerrie! Die spelers en afrigters kry in elk geval hopeloos te veel geld, nes die sokker spelers en die klompie voorste tennis spelers wat week na week teen mekaar te staan kom = “boring” om te kyk. Tennis se finesse is lankal verlore met die enorme raket slaan-areas. Kyk bietjie hoe het die rakette in Borg en Conners se tyd gelyk! Dis net in gholf waar bykans enige speler onder die meer as 100 wat in n toernooi afslaan, kan wen. Selfde met die gejaag van n klompie renmotors – elke keer feitlik dieselfde ou storie!

Rooi Jan ·

Moet saamstem beroepsport het presies dit geword n beroep waar n klomp werkers Saterdag/Sondag na naweek dieselfde ding oor en oor doen sodat hulle maatskappy (die klub) en ander maatskappye ( die televisie maatskappye en die adverteerders) geld kan maak uit n spul zombie bank patats.

Wesley ·

En juis, hier sit almal wat so n misnoe uitspreek teenoor sport, op die kommentaar van n artikel oor sport wat verskyn op die sport afdeling amper heel onder aan die webblad. Baie moeite gedoen net om te kom kla…. Hahhaha

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.