SA afrigter se span tem Amerikaanse Panters

Die Panters, uit die Suide van Amerika, se onoorwonne Sentraal-Europese toerrekord is Saterdag beëindig deur ʼn span wat deur ʼn Suid-Afrikaner afgerig word.

Phil Pretorius, ʼn gewese afrigter van die Bulls, se Tsjegge het die besoekers met 24-10 getem.

Hy het aan Pale Toe! gesê dit was ʼn baie harde, fisieke kragmeting in reënweer.

“Die gladde bal het nie gehelp nie, want albei spanne wil avontuurlike rugby speel,” het hy bygevoeg.

Pretorius is hoogs beïndruk deur die Panters, en sê hulle meld dat rugby in die Suide van Amerika sterk groei, en hul ontwikkeling baie goed vorder.

“Dis ʼn harde, fisieke en groot span, wat vaardig is. ʼn Mens kan sien waarom hulle die afgelope twee jaar Rugby Amerikas-Noord se kampioen is.

“Tsjeggië se lynsnelheid op die verdediging was eenvoudig te veel vir hulle.

“Die Tsjegge se avontuurlike spel het tot te veel hanteerfoute gelei, en ek het nog ʼn taak om slim spel by hulle tuis te bring, veral met ʼn gladde bal.”

Pretorius sonder die senters Karel Berounsky en Jirka Pancucek, en die Oxford-flank James Faktor as die uitblinkers aan Tsjeggiese kant uit.

Tsjeggië het nou, wat sowel die vyftienmanspel as sewesrugby betref, onder sý leiding, 13 oorwinnings op die ry af behaal.

Die Panters het hul vorige twee wedstryde op die toer met 51-0 teen Oostenryk en met 35-12 teen Hongarye gewen.

♦ Die Amerikaanse span word saamgestel uit spelers van die Suidelike deelstate, waar rugby minder ontwikkel is as in die res van die land, en die toerspan word deur die gebore Suid-Afrikaner Hein Erasmus aangevoer.

Hy het die span ook die afgelope twee jaar na die Amerikas-Noord-kroon gelei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.