SA afrigter se toetsspan wen Europese afdeling

Ntando Manyosha – Europese afdeling gewen. (Foto: Facebook)

Nóg ʼn Suid-Afrikaanse afrigter se span het Saterdag sy afdeling in die kampioenskapsreekse van Rugby Europa gewen.

Litaue, wat deur Ntando Manyosha afgerig word, het Afdeling 1 Noord onoorwonne afgesluit deur Swede in Siauliai met 43-22 op te dreun.

Hy sal om die afdelingskroon teen Malta te staan kom, wat insgelyks onoorwonne in Afdeling 1 Suid was.

♦ Hongarye het in dieselfde afdeling verras deur Oekraïne in Lemberg tot ʼn gelykop uitslag van 19-19 te dwing.

♦ In Afdeling 1 Suid het Kroasië in Zagreb met 27-6 teen Bosnië en Herzegovina gewen.

Dit plaas hom derde in dié afdeling, maar hy moet nog teen Andorra speel, en kan Israel uit die tweede plek lig.

Kroasië se Suid-Afrikaanse skrumskakel, Jason Newton, het 12 punte met drie doelskoppe en twee strafdoele aangeteken.

Hy het die Goue Leeus op o.16-vlak by die Grant Khomo-week verteenwoordig.

♦ In Oslo het Luxemburg sy verpligtinge in Afdeling 2 Noord onoorwonne afgesluit deur Noorweë met 35-16 te klop.

♦ Denemarke het in Odense woer-woer met Estland gespeel om met 127-5 te wen.

Sy regtervleuel Cassius Deschamps het 42 punte aangeteken. Dit het uit twee drieë en 16 doelskoppe bestaan.

Dit plaas die Dene tweede in hul afdeling, maar drie wedstryde moet nog afgehandel word.

♦ In Afdeling 2 Suid het Serwië vir ʼn eersterangse verrassing gesorg deur Ciprus in Belgrado met 35-17 te klop.

Laasgenoemde, wat deur die Suid-Afrikaner Andrew Binekos afgerig word, het egter reeds seker gemaak dat hy die afdeling wen.

♦ In Rugby Europa se ontwikkelingsreeks het Turkye in Antalya met 13-8 teen Montenegro gewen.

Hy sal aanstaande week sake met Bulgarye om die eerste plek uitspook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.