SA afrigter straks Rassie se opvolger by Munster

Dave Wessels (Foto: You Tube)

Dit lyk na ʼn uitgemaakte saak dat die Suid-Afrikaanse bande met Munster in Ierland behoue sal bly ná Rassie Erasmus se vertrek na Suid-Afrika waar hy as SA Rugby se direkteur van rugby aangestel is.

Dave Wessels, wat die Western Force afgerig het, maar nou werkloos is nadat dié Superrugbyspan deur Australië uit hulle vyftal spanne gesny is, is volgens talle mediaberigte in die VK en Ierland die man wat Erasmus sal opvolg.

Die 36-jarige Wessels het op konsulterende grondslag as tegniese ontleder saam met Erasmus by die Stormers gewerk.

Wessels was glo al in Limerick vir samesprekings en die Ierse provinsie, wat in die Pro14 speel, is nou reg om die aanstelling te doen, word berig.

Hy sal waarskynlik oor die volgende paar weke by Munster inval en ʼn ruk saam met Erasmus werk voordat dié na Suid-Afrika vertrek.

Erasmus  begin amptelik eers op 1 Januarie in sy pos in Suid-Afrika, maar daar is ooreengekom dat hy van Munster af mag padgee sodra ʼn opvolger gevind is.

Dit blyk egter dat hy Wessels eers sal help om sy voete te vind.

Erasmus het ook geen geringe rol gespeel in die verwagte aanstelling van Wessels nie. Hy het Wessels aanbeveel as iemand wat by Munster sal inpas, en sê hy kan instaan vir die oud-Ikey-afrigter se karakter en sy werksetiek, volgens mediaberigte uit Dublin.

Wessels, wat op St Stithians skoolgegaan het, was assistentafrigter van die Ikeys van 2009-’11. Hy het toe in 2012 as verdedigingsafrigter onder Jake White by die Brumbies afgerig en was die senior assistentafrigter van die Western Force in 2013-’16.

Hy het in die laaste drie wedstryde van die 2016-seisoen as hoofafrigter waargeneem, ʼn pos wat hy vanjaar ook beklee het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Callie ·

Weet Rassie waarin hy hom begewe. Hy wat oor rugby politiek by WP weg is. Rassie sterkte. Glo my, ek twyfel of selfs jy weer iets sal regkry met bokke

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.