SA afrigters keil mekaar op in Japan

Jake White. (Foto: YouTube)

Twee Suid-Afrikaanse afrigters se spanne het mekaar goed opgekeil in hul kragmeting in die jongste ronde van die Japanse Topliga.

Jimmy Stonehouse, ʼn oudafrigter van die Pumas en die SA Presidentspan, se Toshiba Brave Lupus het tot in die 57ste minuut voorgeloop voordat die gewese Springbokafrigter Jake White se Toyota Verblitz die gelykmakende drie kon druk.

Lionel Cronjé, ʼn gewese SA o.20-losskakel, wat Superrugby vir die Stormers, Brumbies, Sharks en Kings gespeel het, het sy span met die doelskop met 20-18 laat voorloop, voordat hy die sege van 23-18 met ʼn strafdoel (sy tweede) verseël het.

♦ Die Springbok Ruan Combrinck het die gelykmakende drie vir Kintetsu Liners gedruk voordat hulle uiteindelik met 25-20 teen die Canon Eagles gewen het.

♦ Frans Ludeke, ʼn gewese Lions en Bulls-afrigter, se Kubota Spears het Toyota Industries Shuttles met 27-19 verslaan.

Die flank Grant Hattingh (voorheen Lions en Bulls) en die plaasvervanger-buitesenter Louis Fouché (voorheen Bulls en Kings) het drieë vir die Spears gedruk, en ʼn gewese losskakel van Suid-Afrika A, Francois Brummer, het ʼn doelskop vir die Shuttles behaal.

♦ Die gewese SA o.20-afrigter Dawie Theron se NTT Docomo Red Hurricanes het met 29-19 teen die Munakata Sanix Blues gewen.

Die Hurricanes het Theron verlede seisoen aangestel om hul Topliga-status te help herwin, en dis hul eerste seisoen terug in die senior liga.

Die Springbok Riaan Viljoen het drie doelskoppe en ʼn strafdoel (nege punte) vir die wenspan bygedra en André Esterhuizen, wat Superrugby vir die Sharks gespeel het, het ʼn drie vir die Blues gedruk.

♦ Die Pretoriaans-gebore Japanse toetsspeler, Kotaru Matsjoesjima, het twee drieë vir Suntory Sungoliath, die heersende kampioen, in sy sege van 36-11 oor NTT Shining Arcs gedruk.

♦ Gerhard van den Heever, ʼn gewese speler van die Bulls en die Stormers, het twee doelskoppe tot Yamaha Jubilo se oorwinning van 35-12 oor Ricoh Black Rams bygedra.

Hy was verlede jaar een van die voorste puntemakers in die liga, maar die Japanse toetsheelagter Ajoemoe Goromaroe, is vanjaar dié span se voorkeurstelskopper nadat hy Superrugby en die Reds die rug toegekeer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.