SA breier se Aussie-klub kom pak twee op toer

west harbour piratesDie Australiese Shuteskild-klub, West Harbour Pirates, kom vroeg Oktober vir twee wedstryde na Suid-Afrika.

Behalwe `n wedstryd Woensdag 5 Oktober teen Harlequins in Pretoria, word `n wedstryd in Kaapstad teen `n gekombineerde span van Schotschekloof Walmers (SKW) en Collegians beplan.

Reg de Jager, die span se afrigter, sê die groep is uit senior en o.21-spelers van verskillende vaardigheidsvlakke saamgestel en hoop om in Suid-Afrika teen soortgelyke spanne te speel.

West Harbour het nog nie die Shuteskild (Nieu-Suid-Wallis se senior liga) gewen nie, maar al sy spanne was al in vorige seisoene in halfeind- en eindstryde in die reeks betrokke.

De Jager, wat in Witbank gebore is en aan die Hoërskool Menlopark gematrikuleer het, het in 2002 o.21-rugby vir Quins gespeel.

Hy is daarna Engeland toe waar hy twee seisoene vir Londen Harlequins en een vir Esher gespeel het. In 2005 is hy terug na Suid-Afrika om vir Raiders in Johannesburg te speel, voordat hy in 2006 hom na Sydney, Australië, begewe het.

harlequinsBehalwe vir 2010 toe hy vir SKW in die Kaap gespeel het, het hy tot sy uitttrede in 2013 vir West Harbour gespeel, en die eerste span in 2011 en 2012 aangevoer.

Hy het stut, haker en flank gespeel.

♦ Ben Eybers, die voorsitter van Harlequins, sê Quins beskou die wedstryd as deel van sy voorbereiding vir die 2017-seisoen, en dit sal ook dien as proeflopie vir die Tshwane 10s wat 28 en 29 Oktober by Quins aangebied word.

Inskrywings vir laasgenoemde kan by www.tshwane10s.com gedoen word.

Die 10-manspel het in Maleisië ontstaan en word veral daar en in ander Oosterse lande soos Indonesië, Singapoer, Korea en Thailand gespeel.

Die voorste tienmantoernooi ter wêreld is die een wat sedert 1967 deur die Cobra-rugbyklub in Maleisië aangebied word. Dit vind jaarliks in November in Petaling Jaya plaas.

`n Tienmantoernooi word sedert 2009 in Kaapstad aangebied.

Die spanne bestaan gewoonlik uit vyf voor- en vyf agterspelers. Die reëls is soortgelyk aan dié van sewesrugby, en die Internasionale Rugbyraad, Wêreldrugby se voorganger, het dié variasie in 2010 gepubliseer.

SK WalmersQuins soek afrigters

♦ Quins is intussen op soek na afrigters vir aanstaande jaar. Aansoeke sluit Dinsdag 19 September.

Bekendes soos Kirch Christie, die argitek van Suid-Afrika se Wêreldbekersege in 1995, Oupa du Piesanie en Jimmy Stonehouse het die klub in die verlede afgerig en Gert Mulder is die huidige afrigtingsdirekteur, `n tweejaar-aanstelling.

Voornemende eerstespanafrigters moet oor Vlak 2-kwalifikasies van BokSmart-Wêreldrugby beskik en die res oor Vlak 1-kwailfikasies.

Belangstellendes kan hul CVs aan Leon Potgieter by [email protected] stuur of hom bel by 082 720 7650 om vir `n onderhoud genooi te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.