SA breier se span skud Eurorugby met titelsege

Kęstutis Marciŝauskas – bobaas. Foto: Facebook)

Litaue, afgerig deur ʼn Suid-Afrikaner, het Europese rugby Saterdag kwaai verras met ʼn wegholsege in Afdeling 1 van die Rugby Europa-kampioenskap.

Die wenspan se oorwinning van 81-10 in die eindstryd in Siauliai, Litaue, oor Malta is veel groter as wat die twee plekke beloof het wat die spanne op die ranglys verskil.

Op die koop toe het deelnemers aan ʼn peiling op Rugby Europa se webwerf vir Malta ʼn 2:1-kans gegee om te wen.

Die sege is slegs een punt minder as die nuwe kampioen se rekord van 77-5 wat in 2010 teen Serwië opgestel is.

Ntando Manyosha, rig Litaue die afgelope twee en ʼn halwe jaar lank af.

Litaue was by sy bewindsoorname 44ste op die wêreldranglys. Hy is nou 35ste.

Manyosha is oorspronklik van Mthatha en het sy spore as afrigter aan die Sharks se rugbyakademie verdien.

Litaue se een flank, Martynas Lianzbergas, het vier drieë gedruk, en die losskakel, Kęstutis Marciŝauskas, het 17 punte met ʼn drie en ses doelskoppe behaal.

Laasgenoemde hou nie net met 40 toetse die gesamentlike rekord vir die meeste toetse vir Litaue nie, sy 232 toetspunte en 13 toetsdrieë is eweneens Litause rekords.

Tsjeggië, wat deesdae deur die Suid-Afrikaner Phil Petorius afgerig word, het verlede jaar Afdeling 1 gewen en is tot die reeks om die Rugby Europa-trofee bevorder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.