SA breier se span verrinneweer kampioen in VSA

Hanco Germishuys (Foto: Goff Rugby Report)

Hanco Germishuys (Foto: Goff Rugby Report)

In Texas, word gesê, doen hulle dinge groot, maar nou wil dit lyk of Suid-Afrikaners dáár dit selfs gróter doen.

Die Austin Blacks is die heersende kampioen in die Red River-liga. Dié klub was ook die afgelope twee jaar die naaswenner in die Amerikaanse nasionale rugbykampioenskap.

Saterdag egter, het die Austin Huns, met die gewese SA o.19-, Lions- en Goue Leeusbreier Loffie Eloff as hoofafrigter, die kampioen gevat en die vloer met hom gevryf.

Die Huns het die kragmeting op sy tuisveld, Nixon Field, teen alle verwagting in oorweldigend 45-14 gewen.

Van die Blacks se grootbase het selfs verlede week nog ewe toeterbek verklaar die Huns sal hulle (die Blacks) nooit kan klop nie.

Naas Eloff spog die Huns met die Suid-Afrikaners Danie de Villiers, Pedrie Wannenburg en JC de Wet in die afrigtingspan, en verskeie spelers met Suid-Afrikaanse wortels in die groep.

Eloff het aan Pale Toe! gesê Hanco Germishuys het “ongelooflik” vertoon, en onder meer 50 m ver gehardloop om `n drie te druk.

Germishuys, wat verlede jaar as 19-jarige reeds sy eerste toetsrugby vir Amerika gespeel het, sluit Maandag by die Arende aan vir die res van die Amerikas-rugbykampioenskap.

Hy het Griekwas by die o.13-Cravenweek verteenwoordig, en was kaptein van sy onderouderdomspan aan die landbouskool op Jacobsdal voor hy Amerika toe is.

Nog `n Suid-Afrikaner, Deon Minnaar, het Saterdag veral in die vaste los goed vertoon, en die slot Kyle Breytenbach was puik in die lynstane, het Eloff laat weet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frik ·

Trots om te lees wat ons SA rugby spelers en afrigters oorsee vermag. Vat so SA Rugby, ek voorspel dat baie oorsese lande in die nabye toekoms heelwat SA spelers in hul nasionale spanne sal wees.

Jan Karsten ·

Hierdie einste oorsese lande gaan nog die Springbokke op hulle tuisveld in Suid Afrika kom klop as saru nie sy strooi los nie. Japan, Argentinia, Italie en diem Iere het dit al bewys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.