SA deur na halfeind ná taai stryd teen Skotland

Suid-Afrika het Saterdag by die Statebondspele aan die Goudkus in Australië die finale wedstryd in hulle groep teen Skotland met 26-5 gewen en speel Sondag in een van die twee halfeindstryde.

Met die oorwinning het hulle eerste in groep A geëindig. Net die groepwenners dring deur na die uitspeelrondes om die medaljes.

Suid-Afrika kom Sondag (04:05) in die een halfeind teen Fidji te staan terwyl Nieu-Seeland teen Engeland (03:43) sake om die ander plek in die eindstryd sal uitspook.

Die twee verloorspanne speel om derde plek en die bronsmedalje uit.

♦  Die Blitsbokke het Skotland ná ʼn taai eerste helfte waartydens Suid-Afrika min besit gehad het en die Skotte met goeie verdediging onder druk moes hou, net voor rustyd hul enigste drie gedruk.

Toe het Philip Snyman-hulle in die tweede helfte met meer besit en goeie opsies die teling na 26-0 gerek voordat Skotland reg teen die einde ʼn drie gedruk het.

Dít was die enigste punte teen Suid-Afrika in die groepfase waar hulle teen die swak Maleisië en Papoea-Nieu-Guinee onderskeidelik met 43-0 en 52-0 baljaar het.

Insgelyks het die ander drie voorste spanne in die Wêreldreeks hulle afdelings gewen, behalwe Australië wat voor die groot tuisskare teen Engeland vasgeval het en sodoende uitgeskakel is.

Wallis, wat nie in die Wêreldreeks as ʼn moeilike teenstander beskou word  nie, het Fidji in hulle laaste groepwedstryd deeglik opdraande gegee en net met 17-21 verloor. Fidji het dus deurgedring.

Uitspeeltye Sondag –

Halfeindstryde
03:43 – Nieu-Seeland vs Engeland
04:05 – Suid-Afrika vs Fidji
Bronsmedalje-wedstryd
05:55 – Verloorders van halfeindstryde
Eindstryd
06:42 – Wenners van halfeindstryde

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.