SA flank moet oud-Bok-hulpbreier by Iere ‘red’

Les Kiss – glo onder druk. (Foto: Ulster Rugby)

ʼn Gewese hulpafrigter van die Springbokke se Ierse afrigtingsloopbaan is glo onder druk, en luidens berigte word gehoop dat die terugkeer van ʼn Bok-flank, wat beseer was, sy span se vertoning kan opkikker.

Die webwerf Independent.ie berig Les Kiss is onder druk as Ulster se rugbydirekteur nadat dié Ierse provinsie verlede week in die Pro14-liga met 44-16 deur sy swakker geagte buurman, Connacht, opgedreun is.

Ulster is derde uit sewe spanne in sy afdeling, en Connacht – selfs ná die verrassende sege – vyfde in syne.

Die vernederende nederlaag ná ses onoorwonne wedstryde het glo gerugte laat ontstaan dat Kiss nie sy kontrak, wat tot einde aanstaande seisoen strek, sal voltooi nie.

Hy ontken dit.

Die Australiër Kiss was in 2001-2002 in 11 toetse die Bokke se verdedigingsafrigter, en Suid-Afrika het in 2001 met verreweg die beste verdedigingsrekord in die destydse Drienasiesreeks gespog.

Die webwerf berig dat Ulster in sy komende wedstryd Maandag teen Munster swaar sal steun op die Bok-flank Jean Deysel (vier toetse en twee toerwedstryde) om nuwe lewe in die span te blaas.

Dit sal sy eerste wedstryd wees sedert Oktober toe hy ʼn nekbesering opgedoen het.

Deysel se vermoë as baldraer word hoog aangeslaan, en na berig word, vlam die hoop op dat sy voortstuwende krag meer balbesit op die voorvoet vir Ulster sal oplewer as wat die geval in die ontnugterende kragmeting in Galway was.

Nóg ʼn Bok, die veelsydige Ruan Pienaar (88 toetse), het die vorige paar seisoene ʼn ankerrol by Ulster vervul, maar die Ierse Rugbyunie (IRU) se reëls ten opsigte van buitelandse spelers het sy loopbaan daar kortgeknip, en hy speel nou vir Montpellier in die Franse Pro14-liga.

Die bepaalde IRU-reëls is daarop gemik om te voorkom dat die volgehoue gebruik van buitelanders die ontwikkeling van plaaslike talent strem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.