SA ‘geraamtes’ in RFU-baas se skokbedanking?

Beskuldigings van geldelike wanbestuur, insluitende Suid-Afrikaanse “geraamtes”, het die skokbedanking van die uitvoerende hoof van die Engelse Rugbyunie (RFU) glo voorafgegaan, luidens berigte uit Brittanje.

Steve Brown het Vrydag onverwags sy bedanking ingedien, skaars 15 maande ná sy aanstelling by “die wêreld se rykste rugbyunie”.

Dit volg glo op toenemende kommer oor die RFU se geldelike posisie en beskuldigings van geldelike wanbestuur.

Spelerskoste het glo dramaties gestyg en die begroting van die toer in Junie na Suid-Afrika is blykbaar “aansienlik” oorskry. Boonop moes die RFU blykbaar ook sy hand baie diep in sy sak steek om die Blou Bulle te vergoed vir die opskorting van die afrigter John Mitchell se kontrak.

Die koste van verbeterings by Twickenham ruk glo eweneens hande uit.

Ondanks die enorme wins wat die RFU uit die aanbieding van die vorige Wêreldbeker-toernooi verdien het, word berig dat hy op groot skaal geld sal moet leen, en 64 werknemers moet aflê.

Die RFU se direkteur van beroepsrugby, Nigel Melville, ʼn gewese Engelse kaptein, sal voorlopig in Brown se plek waarneem. Hy was tien jaar aan die hoof van VSA Rugby, en het gehelp om die grondslag te lê vir die groei van rugby in dié geweste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.