SA kan maklik aan Saru se beleidstuk oor kleur voldoen

Bryan Habana (Foto: Guardian.co.uk)

Bryan Habana (Foto: Guardian.co.uk)

Heyneke Meyer hoef nie wakker te lê oor Saru se beleidstuk wat “nie kwotagedrewe” is nie – daar is genoeg spelers van kleur en etniese swartes om van te kies vir die Rugbykampioenskap.

Kom ons maak vinnig sommetjies: Jurie Roux-hulle hoop dat 30% van die Bokspan in vanjaar se kompetisie gekleurd sal wees (waarvan 24% van die 30% etnies swart moet wees). Dus moet 7,2% van die span uit swart spelers bestaan.

As Meyer-hulle ‘n groep van 32 kies, behoort daar dus 20/21 wit spelers en 11/12 spelers van kleur (waarvan 2/3 etnies swart moet wees) in die span te wees.

Daar is meer as genoeg etniese swart kandidate, byna in oormaat: Lwasi Mvovu, Seabelo Senatla, Sibusiso Sithole, Beast Mtawarira, Trevor Nayakane, Siya Kolisi,  Scarra Ntubeni en Bongi Mbonambi.

Bryan Habana, JP Pietersen, Cornal Hendricks (ek sal Juan de Jongh ook loshande kies) en Nizaam Carr hoort sekerlik ook daar. Wat van Cheslin Kolbe, en onthou jy nog vir Gio Aplon?

Dalk is daar te veel vleuels, hakers en stutte … en wat gebeur as die die  beseringspook kom maai?

Daar is ook genoeg spelers in die reserwetenk: Elton Jantjies, Oupa Mohoje, Tera Mtembu, Zane Kirchner, die Ndungane-tweeling,  Rudy Paige, Giant Nyatanda, Courtnall Skosan, Howard Mnisi al is van hulle nog nie Bokmateriaal nie.

Dis effe vreemd dat Saru sy transformasieplan aan só ‘n groot klok hang. Rugby is reeds die sportsoort van die vyf grotes (rugby, sokker, krieket, atletiek en netbal) wat die meeste getransformeer het.

Dis egter geen geheim nie dat Saru weer gaan bie om ‘n Wêreldbeker-toernooi aan te bied.  Dis vanjaar Engeland se beurt, Japan speel gasheer in 2019 en ek is vas oortuig dat Suid-Afrika voor in 2023 of 2027  se toue staan.

Om ‘n Wêreldbekertoernooi aan te bied, het ‘n land die ongekwalifiseerde steun van sy regering  nodig.  Dis hoekom Saru sy rug styfmaak oor sy tranformasieplan, al sal hy dit nie afdwing as ‘n betrokke unie nie daaraan voldoen word nie.

Dis ook nie die eerste keer dat Saru verkondig hoe suksesvol hy transformeer en dat hy reeds miljoene aan ontwikkeling bestee het nie. Jare gelede, toe Rian Oberholzer nog Sarfu se uitvoerende hoof was en Silas Nkanunu die president, is ‘n brosjure “Bloudruk vir `n Droom” bekend gestel.

Dit lê iewers en stof vergaar op Saru se rakke, maar dit het dieselfde boodskap as Dinsdag se aankondiging bevat en die steun van die regering gekry.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

GB Jordaan ·

Laerskolesport gaan oor deelname. Professionele sport gaan oor WEN. Die BESTE speler is die REGTE speler!!

Nico ·

Meriete moet die enigste maatstaf wees, en daar is genoeg op meriete maar die manier hoe dit forseer word laat mens dink en dan is dit maar beter om jou heil oorsee te gaan soek en ordentlik betaal te word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.