SA kaptein druk eerste; Yanks geweste se beste

Sy Suid-Afrikaanse kaptein het die eerste drie gedruk om die grondslag te lê vir die VSA-Suid se Panthers om Rugby Amerikas-Noord (RAN) se gewestelike kampioenskap te wen.

Die span, onder aanvoering van Hein Erasmus, het Guyana in die Nasionale Park in Georgetown, Guyana, met 23-19 geklop (rustyd 13-0).

Die agsteman Erasmus, wat ook die Florida Tridents aanvoer, tel die afgelope paar jaar onder die topspelers in die Suide van Amerika.

Die Panthers het vroeër die Noordsone gewen, nadat die Kaaimanseilande – wat verlede jaar nog deur die gewese Bulls-afrigter Phil Pretorius gebrei is, en met die gewese Grens-speler Morgan Shelver (skrumskakel) en Johann Fourie (op die bank) in sy geledere – die verdedigende kampioen, Mexiko, met 39-17 geklop het.

Dit was soete wraak vir die eilanders nadat Mexiko hulle verlede jaar met ʼn slap riem gevang het deur die beslissende wedstryd so hoog bo seespieël te speel dat die spelers elke 20 minute voorkomend teen hoogtesiekte behandel moes word. Mexiko het toe met 34-24 gewen.

Die Panthers, Mexiko en die Kaaimanseilande het vanjaar elk twee uit drie wedstryde gewen, maar eersgenoemde het twee bonuspunte meer as die ander twee verdien om die kroon te beklink.

Guyana was onoorwonne in die Suidsone.

Rugby is minder ontwikkel in die verre Suide van die VSA en om die spel te bevorder, skryf Rugby VSA ʼn streekspan vir die RAN-reeks in. Die Amerikaanse Arende en Kanada neem nie aan die gewestelike kampioenskap deel nie, maar speel in die Amerikas-rugbykampioenskap, die Amerikaanse “Sesnasiesreeks”.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.