SA kapteins se spanne voor in Yanks se geldliga

Shaun Davies – besielende leiding. (Foto: Glendale Raptors)

Twee spanne met kapteins uit Suid-Afrika is die voorlopers in Amerika se nuwe Senior Rugbyliga (MLR) nadat elk van die sewe spanne vier kragmetings agter die blad het.

Heel bo op die punteleer is Glendale Raptors, wat deur Shaun Davies aangevoer word; gevolg deur Seattle Seawolves, onder aanvoering van Riekert Hattingh.

Die webwerf Americas Rugby News se topvyftiental van die afgelope week sluit juis Davies, wat in Durban gebore is, as skrumskakel in, onder meer op grond van sy besielende leierskap.

Hy het aan Westville Boys’ High in Durban gematrikuleer.

Met die leisels weer stewig in Hattingh se hande, nadat hy van ʼn besering herstel het, het Seattle Saterdag vir Utah Warriors met 41-32 geklop.

Hattingh, wat vir die Blou Bulle in die opstelronde van die Curriebeker gespeel het, is die seun van die Springbok Drikus Hattingh.

In New Orleans het die plaaslike span, NOLA Gold, met 24-20 teen Houston Sabercats gewen.

Dolph Botha, ʼn vaskopstut uit Suid-Afrika, is die afgelope week op grond van sy spel die vorige naweek in die MLR se amptelike vyftiental van die week ingesluit.

Die MLR-webwerf sê Botha skrumwerk anker San Diego Legion se skrum uitmuntend, en sy spel verbeter elke week.

Botha het die Cheetahs in 2015 ʼn slag in die Superrugbyreeks verteenwoordig.

Opgesomde punteleer –

Glendale 19, Seattle 16, New Orleans 11, San Diego 11, Utah 9, Houston 8, Austin Elite 7.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.