SA kry eerste kykie na wêreldbeste Blitsbokke

Marius Schoeman (Saru-sewesakademie), Danny Jones (WPRU), Neil Powell (Blitsbokafrigter), Gert Wessels (Assupol) en Willem Strauss (toernooipromotor) by die bekendstelling op Stellenbosch. (Foto: Verskaf)

Die Blitsbokke sal binnekort op Stellenbosch die eerste keer in Suid-Afrika op die veld draf sedert hulle die afgelope Wêreldreeks ingepalm het.

Plaaslike ondersteuners sal hul helde op 28 en 29 Oktober by die Assupol-sewestoernooi in aksie kan sien.

Met die bekendstelling van die toernooi Donderdag in Stellenbosch is ook bekend gemaak dat nóg twee van die wêreld se voorste sewesspanne, Skotland en Kenia, ook Eikestad toe kom.

Skotland het die Londense toernooi in die afgelope Wêreldreeks gewen, en was die naaswenner in Parys.

Die Blitsbokke, wat verlede jaar die eerste Assupol-sewestoernooi gewen het, sal vir die Skotte moet pasop.

Neil Powell, die Blitsbokke se afrigter, verwelkom die tydsberekening van die toernooi in die lig van die naderende Wêreldreeks.

“Dis ʼn belangrike geleentheid vir die span ná ʼn lang blaaskans, en die gehalte van die teenstand sal hom behoorlik op die proef stel.”

Ander internasionale spanne in die mededingende hooftoernooi sluit Namibië, Zimbabwe, Uganda, Mauritius, die Engelse sewesakademie en ʼn All Stars-span in.

Benewens ʼn klubafdeling, is daar ook ʼn internasionale o.17-afdeling vir skole, waar spanne van Argentinië en Namibië sake met twee SA uitnodigingspanne [afgerig deur Marius Schoeman van die SA Rugbyunie (Saru) se sewesakademie], en uitnodigingspanne van die Westelike Provinsie, Boland en die Suidwestelike Distrikte sal uitspook.

Die toernooi se promotor, Willem Strauss, sê aanstaande jaar is ʼn grootse jaar vir sewesrugby met die Statebondspele, die Seweswêreldbeker, die Wêreldreeks en die Jeugolimpiade op die program, en al die deelnemers aan die Assupol-toernooi sal met die oog hierop daarby baat vind.

Hy meen die sowat 80 deelnemende spanne maak van die toernooi een van die grootste ter wêreld, en voorspel dat die toernooi tot een van die hoogtepunte op die wêreldseweskalender kan uitstyg.

Gert Wessels, die uitvoerende direkteur van Assupol Holdings, sê dié onderneming is aktief gemoeid by die ontwikkeling van rugby op voetsoolvlak, en glo jong spelers moet deur die skepping van ʼn teelaarde bemagtig word vir insluiting in senior beroepspanne.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.