SA losskakels van die grootste in Europa

Handré Pollard op 25 Oktober 2014 in aksie teen die All Blacks op Ellispark. Foto: GB Jordaan

Duidelik duld Suid-Afrikaanse losskakels nie enige stories van kabouters nie. Die webblad RugbyPass het onlangs ’n studie van die nommertiens in Europa gedoen: En die Suid-Afrikaners is beslis meer fisiek as hul teenstanders.

Losskakels word dikwels die klavierspelers van wêreldrugby genoem; juis omdat vaardighede en taktiese skerpheid dalk ’n bietjie meer as grootte en spierkrag tel. Daarom het die spiertier-beheptheid van die hedendaagse era dalk nie só ’n groot invloed op hierdie posisie nie.

’n Groter losskakel mag dalk ʼn bietjie meer verdedigingsbestendigheid bied, maar van die beste losskakels – soos Henry Honiball en Jonny Wilkinson – was nie van die grootste spelers nie.

Tog is die swaarste losskakels in die Engelse Premierliga, die Pro14 en die Franse Top14 almal Suid-Afrikaners.

Montpellier en Sale Sharks se Handré Pollard en Rob du Preez weeg albei 98 kg, terwyl die Kings se JT Jackson die skaal op 100 kg laat kreun.

“Dit onderstreep eintlik net die feit dat Suid-Afrikaners daarvan hou om groot losskakels te kies. Pollard het – nes Butch James in die verlede – nie geskroom om die verdedigingslyn aan te val nie,” het die webblad se Josh Raisey geskryf.

Hoe die losskakels in die verskillende posisies met mekaar vergelyk:

Franse Top14:

  • Handré Pollard (Montpellier): 1,88 m en 98 kg
  • Leo Berdeu (Agen): 1,95 m en 95 kg
  • Nicolas Sanchez (Stade Francais): 1,77 m en 83 kg
  • Die gemiddelde lengte van losskakels in die reeks is 1,82 m en hulle gewig 88 kg.

Engelse Premierliga:

  • Rob du Preez (Sale Sharks): 1,91 m en 98 kg
  • Owen Farrell (Saracens): 1,88 m en 92 kg
  • George Ford (Leicester Tigers): 1,78 m en 86 kg
  • Die gemiddelde lengte van die losskakels in die reeks is 1,82 m en hulle gewig 90 kg.

Pro 14:

  • JT Jackson (Southern Kings): 1,90 m en 100 kg
  • George Whitehead (Cheetahs): 1,85 m en 89 kg
  • Jaco van der Walt (Edinburgh): 1,79 m en 92 kg
  • Die gemiddelde lengte van die losskakels in die reeks is 1,84 m en hulle gewig 90 kg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

BoerSonderRoer ·

Hier in Europa is die manne sissies. Suid-Afrikaners hoef vir niemand terug te staan nie. Niemand.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.