SA man: Georgië kan beter as Italië in 6-nasies

sesnasies-logo‘n Suid-Afrikaanse afrigter met grondige kennis van Europese rugby meen Georgië sal mededingender as Italië in die Europese Sesnasiesreeks wees.

Pale Toe! het die gewese Pumas-afrigter Danie de Villiers, wat as breier die topligas in Italië sowel as Roemenië gewen het, na sy mening in dié opsig gevra met die oog op die nuwe Sesnasies-seisoen wat eersdaags afskop.

De Villiers is deesdae die agterlynafrigter van die Austin Huns in Texas, Amerika.

Hy meen Italië se gesukkel in die Sesnasiesreeks [Die span kon nog net 12 uit 85 wedstryde wen, en was 11 uit sy 17 seisoene in die reeks laaste. – Red.] weerspieël rugby in dié land se interne probleme.

“Tensy daar ‘n verandering kom in die manier waarop hulle [in rugby] belê en vir die toekoms beplan, sal die probleem nie opgelos word nie.

“Wie gaan die sogenaamde ‘groot’ name in die huidige Italiaanse span vervang? Daar is geen logiese opvolgers nie,” sê die boorling van Kaapstad wat Roma Olimpic tot oorwinning in die Italiaanse Top10-liga gebrei het. Is dit swak beplanning? ‘n Gebrek aan ontwikkeling? ‘n Tekort aan spelers van gehalte?”

De Villiers, onder wie se hand Timoşoara Saracens die Roemeense Superliga gewen het, meen Roemenië is nog nie gereed om ‘n aanspraak op ‘n plek in die Sesnasiesreeks te maak nie.

“Diepte is die grootste onmiddellike probleem. ‘n Baie groot persentasie van die spelers van die Roemeense nasionale span speel hul klubrugby in Roemenië. Hoewel die gehalte van die spelers indrukwekkend is, is daar slegs sewe spanne wat tot gevolg het dat die spelersgroep waaruit gekies kan word nie baie groot is nie.

Eendragtige trots

“’n Baie groot poging word tans aangewend om junior spelers te ontwikkel.”

De Villiers glo Georgië kan “vandag” by Italië in die Sesnasies oorneem en sal mededingender wees.

“Georgië het jare gelede al besef dat die belegging in en ontwikkeling van junior rugby die sukses van sy nasionale span kan verseker en verbeter. Die aanstelling van topafrigters, en ‘n hegte rugbyadministrasie met eendragtige trots en toewyding het bygedra dat Georgië, van sy junior spanne af tot by die nasionale span, baie susksesvol en sterk mededingend is.

‘n Baie groot spelerspoel ding in die top- Europese reekse mee en dit dra by tot die diepte waaroor Georgiese rugby beskik.

De Villiers sê die Georgiërs is as volk versot op rugby en 60 000 mense by ‘n toets in Tbilisi is ‘n alledaagse verskynsel. “Dit sou interessant gewees het as daar ‘n promosie-relegasiewedstryd vir die Sesnasiesreeks was. Ek dink Italië is bly daar is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Freek ·

O gonna, beteken dit dat die bokke se volgende rekord verloor teen Georgië gaan wees?!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.