SA man se Yanks ‘te swak’ vir bitterbek Samoa

Gary Gold – sy span glo nie goed genoeg vir Samoa nie. (Fot;o: Facebook)

Die sukkelende Samoa is ewe parmantig bitterbek oor sy beplande November-toetse, onder meer op 10 November in San Sebastián, Spanje, teen die gewese Springbok-hulpafrigter Gary Gold se Amerikaanse Arende.

Die ander toetse ter sprake is op 17 November teen Georgië in Tbilisi, en ʼn week later teen Spanje in Madrid.

Luidens berigte is die Suidsee-eilanders se nuwe afrigter, Steve Jackson, ontevrede, want hy wil nie teen “tweedevlaklande” speel nie.

Die feit van die saak is egter dat sowel Georgië (13de) as Amerika (15de) tans bo Samoa (16de) op Wêreldrugby se ranglys pryk.

Spanje is 20ste en sou waarskynlik sterker gestaan het, as dit nie vir sy puntestroping in die debakel oor onwettige spelers in die Rugby Europa-kampioenskap was nie.

Jackson, ʼn gewese hulpafrigter van die Auckland Blues, en wat op sy dag vir die Maori All Blacks gespeel het, is sowat ʼn maand gelede as hoofafrigter van Samoa aangestel.

Samoa se rugby het die afgelope klompie jare erg agteruitgegaan, en hy kon in die vorige wêreldtoernooi nie regstreeks vir aanstaande jaar sʼn in Japan in aanmerking kom nie. Hy het op die ou end eers sy plek bespreek deur Duitsland in ʼn uitdun te klop.

Jackson het hom self nou onder druk geplaas om te presteer teen veral Georgië en Amerika.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.