SA nou net ’n tweederangse rugbynasie

Springbokke-vs-Iere-_-Nuweland-_-11Jun16_Inus-Grobler.jpg

Springbokke vs Ierland (foto: Inus Grobler)

Dr. Eugene Brink Senior navorser aan die Solidariteit Navorsingsinstituut

Ná die afgelope naweek se Nuweland-fiasko kan daar nie meer twyfel wees dat ons rugby nie meer van die beste ter wêreld is nie.

Om teen ’n Ierse span met 14 spelers – wat boonop nou hul ekstra lang internasionale seisoen afsluit en met ’n lang rits prominente beserings hier opgedaag het – op tuisbodem te verloor sou selfs vyf jaar terug ongehoord gewees het. Ierland is ’n span wat in laas jaar se kwarteindronde van die Wêreldbekertoernooi met meer as 20 punte teen Argentinië vasgeval het en derde in vanjaar se bra middelmatige Sesnasies-toernooi gekom het.

Maar wat baie Bok-ondersteuners nie verstaan nie, of dalk nie wil aanvaar nie, is dat hierdie nederlaag deel van ’n geleidelike verswakking in ons rugby oor die afgelope paar jaar is. Kyk maar net na die nederlae teen Japan en Argentinië verlede jaar vir verdere bevestiging (nog skandelike eerstes vir die Bokke), asook ons treurige vertoning in die Rugbykampioenskap voor die Wêreldbeker toe ons nie eens een wedstryd kon wen nie. Dis ook ons vyfde nederlaag in die laaste ses wedstryde teen Ierland en ons het laas jaar vir slegs die tweede keer teen Wallis verloor. Die Suid-Afrikaanse “A”-span was ewe erbarmlik teen die Engelse Saxons Vrydagaand in die ander nederlaag.

Soos Wallis en Engeland teen onderskeidelik Nieu-Seeland en Australië Saterdag gespeel het, is daar geen manier dat die Bokke hulle sou klop nie. Laat staan nog die Australasiërs.

Toegegee, die ondersteuners is passievol maar baie rugby-ondersteuners in Suid-Afrika weet eerlikwaar nie genoeg van rugby af om die ware toedrag van sake te ontleed nie. Hulle leef nog in ons glorieryke verlede en skrik gewoonlik in Junie met “Bok-koors” wakker as daar toetse is en verwag dan die Bokke moet ten minste 30-0 oor elke mededinger uit die Noordelike Halfrond loop. Maar jy maai in Junie en in die Rugbykampioenskap wat jy regdeur die jaar saai en terwyl die res relatiewe vooruitgang getoon het, het SA rugby sedert omtrent 2010 agteruit begin gaan.

Superrugby

In Superrugby is die Lions vanjaar beslis ons beste span en word wyd en syd geloof vir hul mooi hardlooprugby – wat op die koop toe wenrugby ook is! Die Sharks vaar ook redelik en het, anders as die Lions, al baie beter teen die Nieu-Seelandse spanne gevaar. Maar dis helaas waar dit eindig. Die res van ons spanne is eerlikwaar treurig en word weens die nuwe formaat buitendien nie teen die beste spanne in die reeks getoets nie.

Die statistieke jok nie. Die Lions het die tweede meeste drieë sover vanjaar gedruk. Die enigste ander SA span onder die toptien is die Cheetahs. Hulle het wel 14 drieë teen die Japanse nuwelinge, die Sunwolves, in een wedstryd gedruk. Dis ’n lekker gelukskoot waarsonder hulle ook baie verder ondertoe op dié lys sou gelê het.

Die Lions blink ook uit in die ander aanvalskategorieë soos skoon breekslae, die hoeveelheid kere wat die bal gedra word, die meters wat met die bal afgelê word, en die aantal verdedigers wat geklop word. Hulle word op hierdie lyste deur sommige Australiese en veral Nieu-Seelandse spanne omring, met die SA spanne wat onder rond ploeter.

Die Suid-Afrikaanse spanne se duikslagkoers (en dus ook hul verdediging) is wel taamlik goed, maar dis omdat hulle nou grootliks teen mekaar en ook teen swakker debutantspanne soos die Sunwolves en Jaguars speel.

In die indiwiduele kategorieë skitter sekere Lions-spelers ook alleen onder die Suid-Afrikaners met hier en daar ’n speler soos Sergeal Petersen van die Cheetahs (hoekom is hy nie ’n Bok nie?) wat ook hul hande opsteek.

Die Bok-breier

Dit bring my dan by die Bok-afrigter. Die hele proses om Allister Coetzee as Bok-afrigter aangestel te kry was so besaai met die transformasie-dorings dat geen wit kandidaat wou waag om daardie pos op te neem nie. Rassie Erasmus, wat self as een van die gunstelinge beskou is, het homself bloot uit die wedloop gehaal en ’n breierspos in Europa opgeneem. Nog ’n uitstekende rugbybrein wat koers oorsee gekies het te midde van ’n herrie oor transformasie. Nick Mallett het ook “nee” gesê. Hy was reeds ’n Bok-afrigter, ken die slaggate en weet hy sal waarskynlik met veel minder stres meer as kommentator op Supersport verdien.

Coetzee se trompetblasers, vernaam ons sportminister Fekile Mbalula, het sy rol as hulpafrigter onder Jake White en sy agt jaar by die Stormers en Westelike Provinsie as geloofsbriewe aangevoer. Desondanks het Coetzee ’n klein rol in die White-groep Bokke se sukses gespeel en Eddie Jones, wat die Stormers na hom sou afrig maar toe Engeland se breier geword het, moet baie van die krediet saam met White kry. Ten spyte van die grootste talentpoel in hul midde, ’n vet Super-begroting en die beste voedingstelsel in die land, kon die Stormers nie veel in Superrugby onder Coetzee regkry nie. Sy eendimensionele wedstrydplan, wat amper alleenlik op verdediging fokus, was nooit genoeg om van die Stormers ’n kampioenspan te maak nie. Gert Smal moes selfs uit noodweer in 2014 se nagmerrieseisoen kom help red wat daar te redde is en die Stormers het skielik weer drieë begin druk.

Coetzee het wel twee keer die Curriebeker gewen, maar dit was in ’n periode van sewe jaar. En die Curriebeker is nou so afgewater weens die Springbokke se afwesigheid dat dit kwalik as gesaghebbend beskou kan word en net twee of drie van die groot unies kan dit moontlik elke jaar wen.

Daarteenoor het Johan Ackermann as Lions-breier dit al een keer in vier jaar gewen en slegs ’n swak skopvertoning in die eindstryd het hulle in 2014 gekeer om die WP van hul tweede titel te weerhou. Hy het met ander provinsies se uitskotspelers die Lions as Suid-Afrika se trots in Superrugby gevestig en hul manier van speel totaal en ten goede verander.

Maar hy is nie die Bok-afrigter nie, Coetzee is. Helaas gaan die Lions-spelers nie tot hul reg kom binne Coetzee se rigiede en konserwatiewe spelpatroon nie. Iemand soos Lionel Mapoe – wat vanjaar al die meeste drieë in Superrugby gedruk het –  het Saterdag totaal verlore en verward in ’n Bok-trui gelyk terwyl hy andersins onder Ackermann floreer.

As die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) op Heyneke Meyer wou verbeter, sou hulle vir Ackermann die afrigter moes maak. Hulle kon ook – à la Wallis, Skotland, Engeland en Ierland – ’n afrigter van buite die landsgrense aangestel het, maar die naïewe en konserwatiewe drang om als “Trots Suid-Afrikaans” te wil doen, is myns insiens ’n reusefout wat hom aanhou herhaal. Buitelandse afrigters sal buitendien nie die ANC se rassekwotas soos Coetzee duld nie.

Dieselfde geld om nou feitlik slegs spelers wat hul Superrugby in Suid-Afrika speel, vir die Bok-span te kies. Baie van ons beste spelers speel weens beperkte plekke in Suid-Afrikaanse Superspanne, transformasie-vereistes, geldelike redes en ook die swak rand hul rugby in Europa en Japan. Ons Superrugby-talentpoel in Suid-Afrika het te klein geraak om genoeg gehaltespelers aan die nasionale span te lewer en om nie oorsese spelers te oorweeg nie en plaaslike talent weens transformasie te ignoreer, gaan die uittog net versnel.

Transformasie

Baie mense, bekende joernaliste inkluis, het ná Saterdag se loesing gesê transformasie kan nie blameer word nie, want die span was dan grootliks wit gewees. Dis ’n groteske en dalk selfs moedswillige oorvereenvoudiging. Ja, heelwat van die wit spelers het ook swak gevaar en verdien straks nie om daar te wees nie. Maar om weens kwotaredes nie die regte spelers in selfs twee of drie posisies te hê nie en die hele atmosfeer te vergiftig met ’n gehamer op kwotas, laat almal se spelpeil en selfvertroue daal. Hoe moet veral die wit Bok-spelers daaroor voel as die minister van sport die aand voor die eerste toets van die jaar nie raad en gelukwensing by jou hotel uitdeel nie, maar waarskuwings oor rassekwotas en ’n verbod op toernooie as dit nie gehaal word nie? Hoekom moet Mbalula eers die lys van name goedkeur voordat Coetzee die span kon bekendmaak? In watter ander land gebeur sulke goed? Maar dan weer het Saru sy primêre doelwit transformasie, en nie wen nie, gemaak.

’n Politieke hoogvat

Die Bulls se drie Supertitels en die Springbokke se uitnemendheid onder White en ook daarna toe sy senior spelers onder Peter de Villiers in 2009 die Drienasies-titel kon verower en ’n reekssege teen die magtige Britse en Ierse Leeus kon vermag, het die Springbokke en rugby ’n politieke teiken gemaak. Dit was ’n simbool van (grootliks wit) prestasies in ’n andersins middelmatige land wat nooit enigiets anders wen nie en op elke terrein agteruitgang toon. Politiek, transformasie, ekonomiese wanbestuur, ’n verswakkende rand en ’n beheptheid met als plaaslik, het Suid-Afrika nou ’n tweederangse rugbyland gemaak wat verseker nie meer enige dag, soos die rugbyskrywer Mark Keohane vandeesweek skryf, met “15 punte sal wen nie”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gerhard ·

Stig af…iets wat die Afrikaner vir lank baie goed kon doen

Josua Keys ·

Bok span vir 2016: Dalyn Smith(Lions), Akkers(Lions), Julian Redelinghuys(Lions), Franco Mostert(Lions), Etsebet(WP), Jaco Kriel(Lions), Colisi/ Kwagga Smit(Lions), Warren(C)(Lions), Faf(lions), Mapo(lions), JR Esterhuizen(lions), Combrinck(lions), Mvovo(sharks), Cheslin Colby Bench: Jessie Kriel, Malcolm Marks, Lambie, Adrian S, D Vermeulen, Dialinde ek gee nie om wat die mense sê nie maar die is die no 1 Springbok span vir 2016, almal spelers op vorm en tnas die beste in hul posisie is behalwe vir Kwagga wat in elk geval enige tyd in enige span kan instap en n merk maar hy en Kriel is die beste ball fetchres in SA, en die span gaan die All blacks se ego knak gee hulle net die kans om dit te bewys.

Frans C ·

Hoe minder Lions in die Bokspan hoe beter vir die Lions se superrrugbyaanslag.Hierdie ouens gaan so verward terugkom dat dit Ackerman en sy span afrigters ‘n maand gaan vat om hul weer terug te bring in die Lions rugbypatroon en dan is hul kanse ook daarmee heen.
In 2011 klop die Leeus ‘n sterbelaaide Sharksspan om die Curriebeker en was Taute een van die uitblinkers. Hy is daarna WP toe soos Fourie en daarna is min van die spelers gehoor en het Taute feitlik van die toneel af verdwyn en deur beserings gekortwiek.

Kyk gerus na die talle spelers wat vanaf die Lions en Cheetahs na die ander groot bonde is, soos bv. Deysel en Alberts. Deysel haal skaars deesdae die reserwebank.Dus los die Leeusspelers net waar hul is voordat hulle opgeneuk word in ‘n outydse rugbypatroon.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.