SA puntemakers oorheers Anglo-Walliese botsing

Puntemakers uit Suid-Afrika het Vrydag se kragmeting tussen Newport Gwent Dragons (NGD) en Worcester in die reeks om die Anglo-Walliese Beker oorheers.

Die Walliese streekspan het die Engelse klub in die proses met 33-27 verslaan.

Die Springbok Zane Kirchner (losskakel) het 13 van NGD se punte met ʼn drie en vier doelskoppe aangeteken.

Sy spanmaats Jarryd Sage (buitesenter) en Sarel Pretorius (plaasvervanger-skrumskakel) het elk ʼn drie vir die wenspan gedruk.

Sage het vir die Westelike Provinsie in die Vodacombekerreeks en die Goue Leeus-vyftiental in die opstelronde van die Curriebeker gespeel; Pretorius het die Opkomende Springbokke verteenwoordig en vir die Cheetahs Superrugby gespeel.

Kurt Haupt (haker) en Dean Hammond (buitesenter) het drieë vir Worcester gedruk, laasgenoemde die beste drie van die wedstryd, en die resultaat van ʼn puik stukkie voetwerk deur Hammond.

Haupt het Curriebekerrugby vir die Suidwestelike Distrikte gespeel, en Hammond – ʼn gewese SA o.20-speler – vir die Westelike Provinsie.

♦ London Irish se Springbok Arno Botha (flank) het die Cardiff Blues se verdediging deurentyd beproef, en sy drie onder die pale was deurslaggewend in sy span se sege van 42-21. Die spanne was op daardie tydstip gelykop met 14-14, en Botha se drie het die rustydvoorsprong aan Irish besorg, waarop hulle ná die blaaskans voortgebou het.

♦ Josh Strauss (agsteman), ʼn gewese kaptein van die Lions en die Goue Leeus wat toetsrugby vir Skotland gespeel het, het ʼn drie vir Sale gedruk om sy terugkeer na ʼn skouerbesering te vier.

Sale het met 45-18 oor die Walliese Scarlets (Llanelli) geseëvier.

Die Sale-Bok Faf de Klerk (plaasvervanger-skrumskakel) het ʼn minder gelukkige dag beleef. Hy is binne vyf minute nadat hy van die bank af op die veld verskyn het met ʼn geel kaart vir moedswillige onkantspel gestraf. Toe hy op die koop toe die bal wegskop, het die blaser ʼn rooie uitgepluk.

Italiaanse Super10-liga

♦ Joe van Niekerk (senter) het twee drieë vir Rovigo gedruk in sy span se oorwinning van 24-3 oor San Dona in die Italiaanse Super10-reeks.

Hy het Cravenweek- en o.19-rugby vir Griekwas gespeel, en het Opkomende Italië al verteenwoordig.

Sy spanmaat Jacques Momberg (haker), ʼn gewese Curriebekerspeler van die Pumas, het ʼn geel kaart op die lyf geloop.

♦ Carel Greeff (agsteman), wat Superrugby vir die Cheetahs gespeel het, het in die tweede agtereenvolgende wedstryd ʼn drie vir I Medicei gedruk, die keer is sy nederlaag van 13-15 teen Lazio.

Franse D2-reeks

♦ In die Franse Pro D2-reeks het 11 punte van die skoen van Burton Francis (losskakel) – ʼn doelskop, twee strafdoele en ʼn skepdoel – sy span, Grenoble, gehelp om Vannes met 21-20 te troef.

Francis het Superrugby vir die Bulls, die Lions en die Stormers gespeel.

♦ In Mont de Marsan se sege van 26-23 oor Dax het Danré Gerber (binnesenter) met twee doelskoppe en twee strafdoele vir ʼn totaal van tien punte geslaag.

Gerber, wat Curriebekerrugby vir die Boland gespeel het, is die seun van die Bok-legende Danie Gerber.

♦ Gert Muller (plaasvervanger-vakopstut) het ʼn geel kaart in sy span, Perpignan, se sege van 40-13 oor Colomiers op die lyf geloop.
Muller het die Goue Leeus in die reeks om die Curriebeker verteenwoordig.

Fédérale 1-reeks

♦ Cameron Dunlop (binnesenter) se twee doelskoppe en vier strafdoele (16 punte) was goud vir Aubenas werd in sy oorwinning van 26-17 in die Franse Fédérale 1-reeks.

Hy het die Sharks-vyftiental in die opstelronde van die Curriebeker verteenwoordig.

♦ Morné Vletter (losskakel) het twee strafdoele vir Straatsburg in sy nederlaag van 23-26 teen Provence aangeteken.

Vletter is ʼn gewese klubspeler van Durbanville-Bellville in die Westelike Provinsie se Superliga A.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.