SA rugby moet eers dié vangplek te bowe kom

Daar is ʼn vangplek in Suid-Afrikaanse rugby wat te bowe gekom moet word voordat die gevorderde erosie wat die spel en sy strukture ervaar, herstel of selfs bloot gestuit kan word.

Neem nou maar die ernstige tekortkominge wat die Curriebekerstelsel betref.

Is daar dan nie ʼn behoorlike Plan B vir die Curriebekerreeks nie? ʼn Wenplan B, nie sommer ʼn soort van koop-een-kry-een-verniet besparingsbrousel nie?

Die gerugte wat die rondte doen oor die op die oog af onbekookte enkelrondeplan (ses wedstryde) vir aanstaande jaar se Curriebekerreeks, en die gedagte om nog twee spanne – Griekwas en die Pumas – uit die reeds verwaterde binnelandse reekse te weer en wie weet waarheen toe te stuur “sou die geleentheid hom voordoen” (Saru se woorde) kan mos onmoontlik nie die Suid-Afrikanse rugby op die duur ten goede strek nie.

Hoekom word daar nie ʼn slag deeglik op die Curriebekerreeks gefokus om die krimpende hulpbronne só aan te wend dat die reeks groter gesag dra, ʼn aantrekliker opsie vir borge bied, en hoër TV-regte regverdig nie?

Die spreekwoord sê ʼn mens moet jou rieme na die vel sny.

Is dit só vergesog?

Haal tog die ontleedmes uit en vlek die besmette dele tot op die been oop, en vat dan die slagmes en sny die verrotting uit en smyt dit weg.

Dis ongelukkig makliker gesê as gedoen.

Geldkraan

Saru se afgelope verklaring oor die toekenning van franchise’e aan Griekwas en die Pumas dui aan dat ʼn Valke-Luiperds-Griffons- en ʼn Boland-Grens-SWD-konsortium onsuksesvol op die twee “beskikbare” franchise’e gebie het.

Dit laat die hoop opvlam dat nouer samewerking, verkieslik samesmelting tussen van die swakker bonde, uiteindelik tog verwesenlik kan word.

Is dit moontlik om die werklikhede onder die oë te sien?

Saru moes lankal ingryp om die geldsake van die Grens, die Suidwestelike Distrikte en die Oostelike Provinsie te beredder (en dit begin lyk of die Westelike Provinsie – die Curriebekerkampioen – die volgende kan wees), die nasionale liggaam se bekwaamheid in dié opsig, al dan nie, daar gelaat.

Nou word die geldkraan toegedraai.

Samesmelting?

Luidens berigte kry elk van die kleiner bonde aanstaande jaar slegs R7 miljoen van Saru, pleks van vanjaar se R17,5 miljoen. R7 miljoen plus R7 miljoen is darem R14 miljoen al is dit lank nog nie R17,5 miljoen nie.

Is dit nie op die duur beter om naasliggende bonde soos Pumas-Valke, Luiperds-Griffons, Boland-SWD en OP-Grens saam te snoer nie?

Die Griffons en die Luiperds sowel as die OP en Grens deel reeds oorgrensligas, ʼn eerste stap op die pad na nouer samewerking of samesmelting.

Samesmeltings soos hierbo aangedui, kan die getal bonde tot tien verminder en ʼn uiters werkbare Curriebekerreeks in twee afdelings van vyf spanne elk wat maklik tuis en weg oor ʼn dubbele ronde kan speel – veel beter as die mogge troffe-benadering wat vir aanstaande jaar voorgestel word.

Maar ai, die verlies aan stemme en die byvoordele waarvan afstand gedoen sal moet word, is waarskynlik die grootse struikelblok in die weg.

Vangplek

Dit herinner aan die dilemma in Joseph Heller se boek Catch 22: die selfregverdiging van gesag.

Die vangplek in Suid-Afrikaanse rugby is onteenseglik dat dit in die probleem self (die rugbybase) se hande lê om die probleem op te los.

Hoe nou gemaak?

Dit verg, helaas, nie net ʼn sterk en gesonde Curriebekerreeks om die borge na hul tjekboeke te laat gryp nie. Dit is selfs belangriker dat diegene wat die geld bestuur vertroue moet inboesem.

Kan dit van die Saru-base gesê word?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan ·

Rugby sal in die doldrums bly tot die dag dat mense met rugby harte en rugby “credentials” weer aan die stuur van sake kom. Ons sien mos die resultate van mense met soort van opgeblase “struggle credentials” en wat hulle aan ons rugby gedoen het.
Ek het probeer om die president van SA Rugby se rugby agtergrond op te spoor en selfs Google weet net van die poste waarheen die ANC kader vanaf 1995 heen ge-“deploy” is maar geen snars van sy agtergrond as rugby speler of sportman nie.

Bollie ·

Lyk vir my meer as bevoeg as ek na sy “credentials” in sportadministrasie kyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.