SA rugby se diepte, gehalte ly oor die jonges wat loop

Faf de Klerk, Hy sou as hy kon, maar die Lions het `n stokkie voor sy vertrek gesteek (Foto GB jordaan)

Suid-Afrikaanse rugby se plaaslike spens loop leeg – en dit word toenemend die jonger spelers wat loop.

Twee gaan beslis, en ʼn derde moontlik. Ja, drie huidige Springbokke wat verlede jaar nog toetsrugby gespeel het; twee van hulle  net 24 jaar oud en met diep in die twintig toetse agter hul name, en een net 29, is die jongste name wat op pad na oorsese klubs is.

Die kommer van hulle vertrek gaan ook nie bloot om die verlies van moontlike toetsspelers vir die Springbokke nie.

Dit is veral ʼn verdere uitdunning van Suid-Afrika se diepte, wat ons Superspanne en ons Curriebekerreeks verder verswak, wat rede tot kommer is..

Dis nie meer die ouer spelers, na aan die einde van hul loopbane soos die Du Plessis-broers Jannie en Bismarck, Bryan Habana, Pierre Spies en Wynand Olivier nie.

Manne soos Dewald Potgieter, Jacques du Plessis, Paul Willemse, Derick Hougaard,  Nico Janse van Rensburg, Wiaan Liebenberg, Marcell Coetzee en Duane Vermeulen is maar ʼn paar waaraan jy dadelik dink.

Frans Steyn is al jare oorsee en word eers in Mei 30. Hy het 53 toetse en 75 Superwedstryde vir die Sharks gespeel en meer as 100 in die Franse Top14.

♦  Jan Serfontein, wat verlede Saterdag 24 geword het en reeds in 26 toetse en meer as 50 Superwedstryde gespeel het, vertrek beslis; so ook Lourens Adriaanse van die Sharks, 29, wat in ses toetse en meer as 80 Superwedstryde vir die Cheetahs en die Sharks gespeel het.

En die slot Lood de Jager se planne is ook om oorkant die water te gaan speel. Hy is tans in onderhandelinge met die Bulls, en oorweeg ’n gesamentlike aanbod van Saru en die Bulls om te sy loopbaan hier voort te sit.

De Jager, 2015 se SA speler van die jaar wie se spel verlede jaar ʼn insinking beleef het, is na sy skuif van die Cheetahs af na die Bulls toe weer na aan sy beste.

Serfontein, wat as die wêreld se voorste onder 20-speler aangewys is, het verlede jaar geen toetsrugby gespeel nie. Hy het verlede jaar voor die Ierse reeks in Suid-Afrika se hand by ʼn Bokoefening beseer en nie weer die seisoen gespeel nie.

Adriaanse is daardie soort voorryman wat in die diepe donkertes delf, die duikwerk om die losskrums doen, omkeerbesit bewerkstellig en veral stewig skrum.

♦  Voeg by ander Bokke wat hulle oorsee wil wend: Cobus Reinach (27) gaan beslis, en ook Faf de Klerk (25) as die Lions hom sal toelaat. Arno Botha is ook op pad.

Dan is daar ook twee stewige nie-Springbokke, Oli Kebble, 24, en die Sharks se slot Etienne Oosthuizen wie se koppe oorsee staan waarvan ʼn mens weet.

In ʼn land waar ordentlike skrumstutte dun gesaai is, is Kebble en Adriaanse se vertrekplanne slegte nuus. Die Bulls se Bokstut Marcel van der Merwe is ook verlede jaar op 25 oorsee.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Riaan ·

Neem enigiemand hulle kwalik?? Politieke inmengery is aan die orde van die dag. Transformasie word in ons kele afgedruk en spelers word in SA nog op dieselfde manier gekies Grootte, Gewig ens. Die Kiwi’s fokus al lankal op skillsets van spelers terwyl ons nog stampkar rugby speel. Spelers word voos gespeel en loopbane is oor nog voordat dit begin het, Oorsee word spelers bestuur, beseerde spelers word tyd gegun om te herstelen nie net eenkant gegooi soos hier in SA nie. Ek weet van ‘n klomp opkomende spelers wat vir die wolwe gegooi is na beserings en nie ‘n tweede kans gegun was om te speel nadat hul herstel het nie. Ons Unies voel ‘n veer vir die welstand van ons spelers, waar die klubs oorsee hulle sien as ‘n Investment wat beskerm moet word. ‘n Ander ding is ook bv Craven week spanne word deesdae gekies nog voordat daar eens proewe gehou is. So as jy nie iemand ken nie, gaan jy nooit die kans kry om te wys wat in jou steek nie. SA Rugby is op die stadium ‘n “cesspool” waar transformasie wel nodig is, maar nie van ras of kleur nie maar van die selfverhefte en selfbehepte administrateurs en manne wat in die hoe stoele sit. Kyk beter na jou spelers en pas hulle beter op dan sal hulle vir ‘n paar rand minder bly want die kondisies is gunstig. Goue reel is nogsteeds “Happy employee = Happy customers = Healthy Profit”.

Josua Keys ·

Riaan, jy slaan die spyker op die kop, toe ek in die laerskool was baie – baie jare gelede speel ek eerste span haker. Om jou n idee te gee, ons speel daardie jaar B-lige skole want ons het op daardie stadium in daardie liga geval, ons wen al die skole in ons streek en glo dit of nie, nie een van daardie skole kon n enkele punt teen ons aanteken nie ons was onoorwonne in ons liga en wen die beker, was ook in die media gewees. Ons daag toe die A-liga skool wenner uit om teen hulle te speel maar is toe gesê om eers die naaswenner te speel wat ons toe in Krugersdorp op die Bob Van Reenen Stadion 14-0 afransel, skielik word toe gesê dat ons nie die A-Liga wenner mag speel nie want dit word nie toegelaat nie. Ons span word toe na proewe genooit van al die skole en glo dit of nie net een van ons span se spelers kry proewe as ‘n reserwe nou vra ek jou!!! wat ek probeer sê is dat diè al baie jare n probleem was nie net van 1995 nie maar voor dit ook en het wel vererger na 1995. Geld, en soos jy sê, wie jy ken in meeste van die gevalle is die oorsaak asook die kinders n “graad” moet hê om vir die groot spanne te speel en so gaan talent ook verlore!!!

Frans C ·

Rugy is deesdae ‘n werk.Soos met enige werk ismense altyd op uitkyk vir beter geleenthede en vergoeding,want in rugby is jou loopbaan beperk.Met die alhoemeer verswakkende Rand en politieke klimaat sal alhoemeer spelers met die oog op finansiële stabiliteit uitkyk vir die beste geleenthede.

De Klerk is 25 jaar oud,kan moontlik nog vier jaar toprugby neseringsvry speel. Hoelank sal dit hom neem om R 21 miljoen in Suid Afrika te verdien?Daar is geen unie wat dit kan bekostig om hom R4 miljoen per jaar te betaal nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.