SA Rugby se glips ontwrig halfeind-kandidate

currie cup logo 2016.jpgSA Rugby het skielik besef dat sy ondeurdagte Curriebekerprogram dalk ʼn halfeindstryd en die toets teen die All Blacks op dieselfde naweek in Durban tot gevolg mag hê en het die datums van die uitspeelrondes met ʼn week aangeskuif.

Die Sharks, wat tans tweede op die puntelys is, se kanse om die een halfeind aan te bied is baie goed – mits hulle nie op 30 Oktober teen die Goue Leeus op Ellispark verloor nie.

Sou die Sharks volgens die ou bepalingslys tuis in die halfeind speel, sou dit op 7 of 8 Oktober moes gewees het – en die toets teen die All Blacks is op 8 Oktober.

Die halfeindwedstryde is nou tot 15 Oktober uitgestel en die eindstryd – en ook dié van die nasionale kampioenskappe van die o.19s en 0.21s – word op 22 Oktober gespeel.

Dit sal vir al die spanne wat vir die halfeindwedstryde kwalifiseer aanpassings noodsaak omdat hulle nou twee weke tussen hulle laaste ligawedstryd en die uitspeelrondes sal hê – behalwe die Blou Bulle, mits hulle natuurlik kwalifiseer.

Die span van Nollis Marais het gesukkel om die seisoen aan die gang te kom en het groot gevaar geloop om nie die uitspeelrondes te haal nie. Drie opeenvolgende oorwinnings het hulle op koers geplaas en hulle kan met ʼn vierde Vrydagmiddag teen diue Boland selfs ʼn kans staan om tweede op die puntelys te eindig. Dit sal natuurlik van ʼn paar ander uitslae afhang.

Maar, anders as die ander drie semi-finaliste uit die vyf spanne wat ook nog almal kans het om by die twee halfeindwedstryde betrokke te wees, sal die Bulle drie weke moet aflê voordat dit op 15 Oktober eers gespeel word, mits hulle natuurlik die topvier haal.

Hulle laaaste ligawedstryd is Vrydagaand teen die Boland.

Afrigters praat gereeld van momentum. As daar ʼn span is wat benewens die Vrystaat Cheetahs op die oomblik momentum het, is dit juis die Bulle. Die Sharks het verlede naweek weer na twee neerlae gewen, die Goue Leeus het teen die Vrystaat vasgeval, en Griekwas se reeks oorwinnings is met die 20-57 neerlaag teen die Blou Bulle gebreek. Die WP het ook weer teen die Pumas op die wenpad gekom na die afranseling teen die Goue Leeus twee weke gelede.

Vir Marais en sy afrigtingspan sal daar dus die uitdaging wees om die Bulle vir drie weke gefokus te hou op die grootste pryse in Suid-Afrikaanse rugby – selfs al is dit vanjaar op verskeie manier deur SA Rugby tot ʼn amperse toevalligheid afgewater. Maar benewens die fokus, wat ʼn kopding is, is daar skerpheid – en drie weke van die veld af mag dalk net sy tol in dié opsig eis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jonathan Butler ·

Nou wel dit sê alles, wys jou net daar is mense wat nie kyk wat gedoen moet word nie ” Beplanning ” Gee wonder die rugby is soos dit is want kyk watter glipse word gemaak deur SA RUGBY………

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.