SA Rugby sê Roux-regsgeding gaan voort

Jurie Roux. (Foto: Twitter)

SA Rugby (Saru) het sy stilswye oor die regsgeding tussen Jurie Roux en die Universiteit Stellenbosch (US) verbreek.

Volgens die nasionale rugbybeheerliggaam is ’n hersiening van die bevinding in die appèlverrigtinge in die arbitrasieverhoor tussen Roux en sy voormalige werkgewer, die US, steeds aan die gang.

Roux, Saru se uitvoerende hoof, is verlede jaar aangesê om meer as R37 miljoen aan die US te betaal ná sy mislukte appèl teen ʼn arbitrasietoekenning wat in Desember gemaak is.

Luidens ’n 2016-verslag deur KPMG het die rugbyadministrateur ongemagtigde oorplasings van die US se reserwefondse aan Maties Rugby gedoen terwyl hy in diens van die universiteit was.

Roux was vóór sy Saru-aanstelling die US se senior direkteur van finansies en batebestuur.

Hoewel Saru nie ’n party tot die hofsaak is nie, het die sportbeheerliggaam begrip vir die openbare belang in die saak.

“Die regsgeding tussen Roux en die US gaan voort nadat ’n aansoek op 3 Maart in die Wes-Kaapse afdeling van die hooggeregshof ingedien is vir die hersiening en tersydestelling van die finale arbitrasiebeslissing, sowel as die appèltribunaal se uitspraak teen hom.”

Volgens Saru het hy deurentyd staatgemaak op die regsadvies van ’n hoogaangeskrewe span wat tans die onlangse verwikkelinge in oënskou neem.

“Belanghebbende Saru-lede word op hoogte van die saak se verdere verloop gehou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.