SA Rugby se Speler van die jaar aangewys

Weerlig kan inderdaad twee keer op dieselfde plek slaan, veral as die weerligstraal se naam Pieter-Steph du Toit is.

Die WP-slot/Springbokflank is Donderdag vir die tweede keer in drie jaar as SA Rugby se Speler van die jaar aangewys.

Du Toit is slegs die vyfde speler (sedert 1992) wat meer as een keer met dié titel wegstap. Ander spelers is Bryan Habana (2005, 2007 en 2012), Schalk Burger (2004 en 2011), Jean de Villiers (2008 en 2013)

en Fourie du Preez (2006 en 2009).

Die vyf benoemde spelers was:

  • Pieter-Steph du Toit

Die 26-jarige Du Toit was een van die Springbokke se uitblinkers in hul Nieu-Seelandse oorwinning vroeër vanjaar.

Du Toit het 24 duikslae uitgevoer in die Bokke se sege van 36-34 in Wellington. Hy het ook die span teen Wallis in Washington DC aangevoer. Deur die loop van die jaar het hy teenstanders 202 keer platgeduik.

  • Aphiwe Dyantyi

Daar is geen plaasvervanger vir spoed nie en Dyantyi het gewys dat hy oor emmersvol blitskrag beskik.

Die Lions-vleuel het onlangs nog Varsitybeker-rugby vir die Universiteit van Johannesburg gespeel, maar hy het die suksesleer taamlik vinnig geklim: Hy is einde 2018 deur die Internasionale Rugbyraad as hul Deurbraakspeler van die jaar aangewys.

  • Malcolm Marx

Marx het in 2017 met ’n bakkievrag vol toekennings weggestap: Hy was SA Rugby se speler van die jaar, die jong speler van die jaar én die SA Superrugbyspeler van die toernooi.

Die jong haker se spelpeil was ook witwarm in 2018: Hy het 27 drieë vir die Lions in hul Superrugbyveldtog gedruk.

  • Franco Mostert:

Die Lions se hemelbesem het ’n sleutelrol in die Johannesburgers se Superrugbysukses gespeel en hy was deel van hul pad na drie agtereenvolgende Supereindstryde.

Die 28-jarige slot doen gereeld die Bokke se donkiewerk en het sedert sy debuut in 2016 reeds 29 wedstryde in die groen-en-goud gespeel.

  • Handré Pollard

Loftus se nuwe liefling het op 24-jarige ouderdom reeds meer Springbokpunte as die legendariese Naas Botha.

Pollard het 339 punte op sy kerfstok en indien hy sy spelpeil kan volhou en beseringsvry bly, kan hy die no. 10-trui vir die voorsienbare toekoms dra.

  • Pieter-Steph du Toit ná die oorwinning in Nieu-Seeland.(Twitter @All Blacks)

    Ander wenners

  • SA Rugby Jong speler van die jaar: Sbu Nkosi
  • Span van die jaar: Blitsbokke
  • Afrigter van die jaar: Neil Powell
  • Blitsbokspeler van die jaar: Dylan Sage
  • Junior Springbok van die jaar: Wandisile Simelane
  • Superrugbyspeler van die jaar: Aphiwe Dyantyi
  • Curriebekerspeler van die jaar: Sergeal Petersen

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans C ·

Waarom geen berig oor Bulle se vertoning in Kaapstad.Dit was tog nie so swak dat niemand daaroor wil berig nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.