SA rugby: wie moet die doodloopstraat verhoed?

Suid-Afrikaanse rugby het ʼn kruispad bereik, wat sonder raakvat-leiding dreig om in ʼn doodloopstraat te eindig.

Die tyd om sake reg te ruk is min, en diegene in beheer van Suid-Afrikaanse rugby sal kort duskant ʼn wonderwerk moet verrig.

Maar wie is die mense wat rugby se toekomsweg moet bepaal?

Pale Toe! het vasgestel dis nie so eenvoudig om die name van die SA Rugbyraad (Saru) se uitvoerende raad (UR) in ʼn neutedop te vind nie.

Dit verskyn nie op ʼn logiese plek soos op Saru se webwerf nie, en ook nie in die SA rugbyjaarboek nie. Die unie se jaarverslae behoort dit te bevat, wil ʼn mens dink, maar pogings om dié skakels op die webwerf oop te maak, was vergeefs.

Die moedswilliges tussen ons sal neig om te wil sê dit lyk of die rugbybase beter vaar met wegkruipertjie speel, as met die spel wat hulle bestuur.

Op die ou end, danksy berigte op die internet, en met hulp van Saru se skakelafdeling kan Pale Toe! ʼn volledige prentjie van die UR aan sy lesers bied.

Hier is diegene wat rugby van ʼn doodloopstraat moet red.

President: Mark Alexander

Alexander is sedert 1994 ʼn lid van die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok), voorheen die Nasionale Olimpiese Komitee (Naskok); hy was lid van die SA Sportkommissie; en was die adjunkpresident van die Goue Leeus-rugbyunie (GLRU).

Adjunkpresident: Francois Davids

Hy is ʼn gewese president van die Bolandse Rugbyunie. Hy het in die dae van die destydse Saru (ou bedeling) die Bolandse span aangevoer.
Sowel Alexander as Davids se termyne loop vanjaar ten einde. Hulle sal waarskynlik herkiesbaar wees.

Visepresident: James Stofberg

Stofberg, ʼn gewese president van die Luiperds-rugbyunie (LRU), en wat onder meer Rusland se nasionale span afgerig het, het die destydse Wes-Transvaal van 1972 tot 1979 op die rugbyveld verteenwoordig.

Vier verkose verteenwoordigers: Vivian Lottering, Boet Fick, Tobie Titus en Pat Kuhn.

♦ Lottering is ʼn gewese president van die Valkerugbyunie (VRU), en het Transvaal en Oos-Transvaal in die eertydse alternatiewe strukture op die rugbyveld verteenwoordig.

♦ Fick is ʼn gewese president van die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU).

♦ Titus was ʼn president van die Westelike Provinsie-rugbyunie (WPRU).

♦ Kuhn is op sy beurt ʼn gewese voorsitter van WP Rugby (Pty) Ltd, die bond se sakevertakking.

Kragtens die Saru-grondwet moet dienende provinsiale ampsdraers uit hul poste bedank wanneer hulle tot Saru se UR verkies word.

Fick en Kuhn se termyne loop vanjaar ten einde, maar hulle kan hulle weer verkiesbaar stel.

Bogenoemde verteenwoordigers word op die jaarvergadering deur die president en die verteenwoordigers van die 14 provinsiale bonde (twee stemme per bond) verkies. Grens en die Oostelike Provinsie (OP) se stemreg is tans opgeskort omdat hulle onder administrasie is.

Terloops, die unie het ook ʼn aantal assosiaatlede wat geen stemreg op die ledevergaderings het nie, naamlik Skolerugby, die Skeidsregtersvereniging, “Tag Rugby” (ʼn nie-kontakspel, wat met die oog op ontwikkeling benut word), Raakrugby, Rolstoelrugby en die Parlementêre Rugbyvereniging.

Vier benoemde verteenwooordigers: Ilhaam Groenewald, Monde Tabata, Sam Ngumeni, vakant.

♦ Groenewald, die eerste vrou in Saru se UR, is die hoofdirekteur van Maties Sport, en was ʼn voorsitter van Universiteitsport Suid-Afrika (Ussa).

♦ Tabata is ʼn gewese besturende direkteur van Megapro, Saru se kommersiële agent, en was lank ʼn direkteur van die internasionale Peermont-hotelgroep.

♦ Ngumeni, ʼn uitvoerende direkteur van Woolworths Holdings Limited, is vir een van die oorblywende twee poste benoem, maar het dit nog nie gevul nie.

♦ ʼn Vierde benoemde lid sal na verwagting binnekort aangewys word.

Die benoemde lede word kragtens die grondwet deur Saru se UR gekies op grond van hul uitsonderlike sake-, rugby- en beroepsvernuf.

Hoof- Uitvoerende Beampte: Jurie Roux

Roux was voor sy aanstelling as Saru se HUB die Universiteit van Stellenbosch se senior direkteur van finansies en batebestuur. Hy het as visepresident van die WPRU gedien, was die voorsitter van Varsity Cup (Pty) Ltd, en het op sy dag vir die Maties heelagter gespeel.

Hoof- Finansiële Beampte: Boebie Saban

Saban, ʼn geoktrooieerde rekenmeester, het vroeër sy eie konsultdiens bedryf, en het ses jaar lank as hoof- finansiële beampte van die SA Instituut vir Dwelmvrye Sport (SAIDS) opgetree.

Spelersverteenwoordiger: Vakant

Louis von Zeuner het die spelers tot onlangs verteenwoordig, maar het na verneem word bedank. Hy was die voorsitter van My Players, die sakeonderneming van die Suid-Afrikaanse beroepsrugbyspelers. Von Zeuner het jare lange ervaring in die bankwese, en het as uitvoerende adjunkhoof van die Absagroep afgetree.

Die spelersverteenwoordiger word deur die SA Rugbyspelersvereniging (Sarpa) verkies.

Vreemd

♦ Saru se lidmaatskap val ietwat vreemd op omdat die grondwet na nege lede – die nege geopolitieke provinsies – verwys, maar die stemme aan die individuele bonde toeken. In Gauteng het die Blou Bulle, die Goue Leeus en die Valke elk twee stemme (ses in totaal); in die Wes-Kaap is daar ook ses met die WP, Boland en Suidwestelike Distrikte wat elk twee het; en in die Vrystaat (Vrystaat en Griffons) en die Oos-Kaap (Grens en die OP) is daar vier stemme elk. KwaZulu-Natal, Noordwes en Mpumalanga het ʼn bond elk en dus twee stemme; terwyl Limpopo sonder ʼn eie bond ʼn stemlose lid is.

Dit is omdat van alle sportsoorte verwag word om hulle na die geopolitieke indeling te skik as vereiste van hul lidmaatskap aan Saskok.

♦ Saru se volgende ledevergadering is vir einde Maart bepaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Michael ·

Ek het vir my n all black trei gekoop en dit is die span wat ek van nou af ondersteun en die Crusaders in die super reeks

Jean ·

Die tyd om sake reg te ruk is lankal verby pel, Saru het klaar die skade berokken! Ek kyk en ondersteun lankal nie meer die werfbokke nie!!,…gaap……hoe vervelig.. Go ALL BLACKS!Ek hoop jul speel spoedig bankrot springkrokke!

Lol ·

Ek neem aan Jurie Roux het sy Matie trui en SARU posisie te danke aan Stellenbosch mafia?

Hennie ·

Verhoed dat dit in ‘n doodloopstraat beland ? Dis lankal reeds daar!

Koos1 ·

En wie is daar om rugby en die spelers te beskerm? Die spul wat nou daar is het SA Rugby verwoes! Dit laat my baie aan ons regering dink!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.