SA rugbybase in verkiesing teengestaan

André May – presidentskandidaat. (Foto: Facebook)

Die president en ander ampsdraers van die SA Rugbyunie (Saru) kry teenstand in die komende uitvoerende raadsverkiesing tydens ʼn vergadering van die hoofraad op 6 April.

Daar was die afgelope tyd skerp kritiek oor Saru se hantering – veral die gebrek aan daadkrag en oënskynlike trae besluitneming – van sleutelkwessies wat onder meer met die Springbokke se swak vertoning saamhang.

Die benoemings is Woensdag deur die unie aangekondig.

Die president, Mark Alexander, word deur André May van die Luiperds teengestaan, nadat hy (Alexander) voorheen onbestrede verkies is.

May, ʼn regsman, het van 1984 tot 1994 die destydse Wes-Transvaal 70 keer as slot verteenwoordig.

Francois Davids, die adjunkpresident, word deur Jan Marais van die Griffons teengestaan.

Vivian Lottering (Valke, sittende lid), Schalk Liebenberg (KwaZulu-Natal), Hein Mentz (Pumas), Lindsay Mould (Vrystaat), Arthob Petersen (Boland); Jannie van der Mescht (Blou Bulle) en Thelo Wakefield (Westelike Provinsie) is vir die poste as verkose unieverteenwoordigers benoem.

Daar dien vier verkose lede in die UR, en hulle word vir ʼn termyn van vier jaar verkies. Hul uittreedatums wissel en daar is vanjaar slegs twee vakatures waarom die ses benoemdes meeding.

Lottering se termyn verstryk omdat hy slegs die oorblywende twee jaar van Davids se termyn oorgeneem het toe dié as adjunkpresident verkies is. Boet Fick se termyn verstryk ook, en hy is nie herkiesbaar nie.

Pat Kuhn en Tobie Titus se termyne verstryk eers oor twee jaar.

Die pos van visepresident verval ook, en James Stofberg, wat dit gevul het, tree uit.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hewitt ·

Geen probleem met die feit dat hulle die bestuur teenstaan nie, maar wat het May, spesifiek, al ooit bereik as president van die Luiperds Rugby Unie? Sy klubs moet in oor-grens kompetisies deelneem, aangesien daar nie genoeg gedoen word om die klubs te onderhou, en spelers ‘n regverdige kans te gee as dit op provinsiale vlak kom nie. Daar word slegs na die PUKKE gekyk as die Luiperds gekies word, terwyl daar baie talent by klubs is en al was in die verlede. Daar is nie eers enige behoorlike toernooie wat aangebied word in die streek nie, en die wat daar wel is, is heeltemal apart van die Unie, aangesien die Luiperds Unie se bestuur nie ‘n idee het hoe om rugby te beheer en uit te brei nie. My mening, is dat hulle in ‘n gemaksone is, en maar net die geld skep wat met hulle poste gepaardgaan, ipv om rugby eerste te plaas. Ek dink dit is ‘n vroeë “April-fools” grappie, hierdie idee van May om te dink hy kan SARU bestuur.

Arie ·

Dis hoog tyd niemand van sarfu hoort dasr nie! Solank hulle nie van sleg na slegter gaan nie

Sarel Strydom ·

Verkies mense wat Rugby wil bevorder sonder om Politiek te bedryf. Ou Dok se woorde altyd was ” jy is nie groter as die spel nie” Dink mense het dikkoppe gekry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.