SA rugbyspeler in Japan: ‘Ek is op ʼn goeie plek in my loopbaan’

Jano Venter saam met die All Blacks se Luke McAlister. Foto: Verskaf.

Op volle vaart moet Jano Venter ’n vreesaanjaende gesig wees. Die 26-jarige agsteman het in 2012 vir die SA Skolespan uitgedraf terwyl hy ook sy vaardighede vir die Goue Leeus en die Blou Bulle uitgestal het.

Hy is bekend vir sy sterk lopies terwyl hy op skool ook ’n paar stelskoppe vir HTS Middelburg tussendeur die pale gejaag het.

Deesdae speel hy vir die Shimzu Blue Sharks in Tokio. En ’n speler wat 1,92 m lank is en meer as 100 kg weeg, is beslis soos ’n Alphaville-treffer: Letterlik groot in Japan!

“Ja, ek is beslis een van die grootste ouens. Nie net in die span nie, maar sommer ook in die hele Tokio,” het hy vanoggend laggend aan Maroela Media gesê.

Venter speel saam met gesoute spelers soos die All Blacks-ster Luke McAlister en Aussies soos Pekahou Cowen en Sam Wykes. Dan is die voormalige Blitsbok Rayno Benjamin ook in die Blue Sharks-kleure te sien.

Op die aanval. Foto: Verskaf.

“Ek het ’n kontrak van twee jaar onderteken, maar dit is my droom om vir tien jaar in Japan te speel. Ek geniet dit ongelooflik baie hier.”

Volgens die jongste syfers is daar amper ’n duisend Covid-19-gevalle in Japan.

“Alle rugbywedstryde is gekanselleer, maar oefeninge gaan normaalweg voort. Japan se gesondheidsorg is van die beste ter wêreld en hul dissipline – veral wat higiëne betref – is verstommend. Hulle spog met van die modernste hospitaalsorg.”

As hy so na die situasie in Japan kyk, dink hy dat hulle nog positief is om die Olimpiese Spele in Julie aan te bied?

“Ja, hulle is tans nog positief,” is sy onmiddellike antwoord.

Tog kan die situasie in ’n oogwink verander, maar Venter glo dat enige sportman of -vrou steeds in hierdie onseker tye kan droom.

“Ek het baie goeie tye by die Leeus en die Bulle gehad, maar ek is nou op ’n baie goeie plek in my loopbaan,” voeg hy by.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.