SA se rugbyspeler van die jaar: Eben Etzebeth?

Eben Etzebeth op die aanval (November 2021) (Foto: Adrian Dennis/AFP)

Wanneer daar om die braaivleisvuur gekuier gaan word oor wie vanjaar die beste Springbokspeler was, kan daar tot laataand gesels word. Maar eintlik is dit nie nodig nie, want Eben Etzebeth troon in my boekie kop en skouers bo die res uit.

Die oes is nogal groot, want hy ding onder meer mee met Lukhanyo Am, Siya Kolisi, Makazole Mapimpi en Damian de Allende.

Dié vyftal is juis Vrydag deur die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) as sy benoemdes vir Speler van die Jaar aangewys.

Maar gaan vra maar vir Etzebeth se teenstanders teen wie hulle nie wil speel nie, gaan kyk maar wat die statistieke sê, hoewel dit soms misleidend kan wees. Dink maar daaraan wie die tweestryde gewen het: Alun Wyn Jones of Etzebeth? Brodie Retallick of Etzebeth? Maro Itoje of Etzebeth?

Gaan kyk maar hoe Etzebeth sy primêre funksies as slot uitgevoer het, om sy eie ingooie in die lynstane te bemeester, om op die teenstanders se ingooie mee te ding en te bederf, om die Springbok-voorry die nodige stukrag te gee, om teenstanders disnis te loop, om oor die voordeellyn te kom, om met sy fisieke teenwoordigheid die teenstanders besig te hou

Am is tweede in die ry, want hy was die argitek van die Springbok-aanvalle op buitesenter. Hoeveel kanse het hy nie vir Mapimpi geskep nie? Hoeveel teenstanders het hy nie in hul spore gestuit nie?

Kolisi het vanjaar sy beste spelpeil gelewer, maar hoewel die Bokke weer eerste op die wêreldranglys is en die reeks teen die Britse en Ierse Leeus gewen, was hul wenpersentasie slegs 62,5% en het hulle vyf van hul 13 toetse verloor.

De Allende het namate die seisoen gevorder het, al hoe meer uit sy dop gekruip en was nie net ʼn stormram van die verlede wat oor die voordeellyn moes kom nie.

Malcolm Marx ook meer as sy kant gebring wanneer hy in die tweede helfte as plaasvervangers-haker opgestuur is. Sy skrumwerk, vermoë om drieë te druk en besit af te dwing, was weer ʼn lus vir die oog.

Maar wie kan teen Eben Etzebeth stry?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Chris dupreez ·

Vir seker Etzebeth, Amm en de Allende asook Mapimpi was ook uitstekend hierdie jaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.