SA skrumskakels kan Franse eindstryd dikteer

Twee toetsskrumskakels uit Suid-Afrika kan ʼn deurslaggewende rol in die eerskomende eindstryd van die Franse Top14-liga speel.

Die Springbok Ruan Pienaar het Saterdag 15 van Montpellier se punte in sy halfeindsege van 40-14 teen Lyon aangeteken. Hy het met vier doelskoppe en drie strafdoele geslaag.

Nóg ʼn Bokagterspeler, Frans Steyn, het ʼn strafdoel aangeteken, en die gewese Bulls-slot, Paul Willemse, het ʼn drie vir die wenspan gedruk.

Ondanks Lyon se merkwaardige prestasie om in sy eerste seisoen terug in die Top 14 die halfeindstryd te haal, was hy heeltemal uit sy diepte teen die span wat boaan die punteleer geëindig het.

Castres het in die ander halfeindstryd seker gemaak hy speel in die eindstryd deur Racing 92 met 19-14 uit te skakel.

Rory Kockett, wat die Lions en die Sharks in Superrugby verteenwoordig en toetsrugby vir die Hane gespeel het, vertolk ʼn sleutelrol in Castres se sukses en sy stryd teen Pienaar kan bepalend in die uitslag van die eindstryd wees.

Montpellier het nog nooit die reeks gewen nie, en die jongste van Castres se drie seges was in 2013.

Engelse Premierliga

ʼn Ander gewese Superrugbyspeler van die Sharks, Brad Barritt (hy het toetsrugby vir Engeland gespeel), het Saracens Saterdag tot ʼn sege van 27-10 gelei om Exeter Chiefs as Engelse Premierliga-kampioen te onttroon.

Vir die Bok Schalk Brits (37) is die bekeroorwinning met sy uittrede uit die spel ietwat bederf toe hy ʼn geelkaart op die lyf geloop het.

Roemeense Superliga

In Roemenië het Timoşoara Saracens die Superliga die derde keer agtereenvolgens gewen deur Baia Mare in die eindstryd in Boedapest met 21-15 te klop.

Die kampioen was vroeg met 12-0 voor, maar ʼn geelkaart aan sy losskakel, Jody Rose, ʼn eertydse Opkomende Springbok en deesdae ʼn Roemeense toetsspeler, het Baia Mare in staat gestel om ʼn vinnige agt punte aan te teken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.