SA spanne kies hul swaargewigte vir die naweek

Die Bulls het ’n handvol Springbokke nadergetrek, terwyl die Lions, Stormers en die Cheetahs spelers wat van beserings herstel het in hulle spanne vir die naweek se kragmetings ingesluit het.

Die Kings het ook ’n  paar skuiwe gemaak. Hulle skerpste angel, die heelagter Malcolm Jaer, wat die afgelope naweek ’n driekuns teen die Force behaal het, is weens ’n kniebesering nie beskikbaar vir die Baaiers se wedstryd Saterdagoggend 7:05 (SA tyd) teen die Reds in Brisbane nie.

Jaer se plek word deur Masixole Banda ingeneem, terwyl Tyler Paul vir Andisa Ntsila aan die kant van die skrum vervang. Ntsila skuif af bank toe.

Mzwanele Zito sal Wilhelm van der Sluys se slotmaat wees, met Irne Herbst wat homself op die bank bevind.

In die voorry roteer Chris Helberg en Schalk van der Merwe, met laasgenoemde wat van die bank af sal speel.

Spanne –

Reds: 15. Karmichael Hunt, 14. Izaia Perese, 13. Samu Kerevi (kapt.), 12. Duncan Paia’aua, 11. Eto Nabuli, 10. Quade Cooper, 9. James Tuttle, 8. Scott Higginbotham, 7. George Smith, 6. Hendrik Tui, 5. Lukhan Tui, 4. Rob Simmons, 3. Sam Talakai, 2. Alex Mafi, 1. Sef Fa’agase. Bank: 16. Andrew Ready, 17. Kirwan Sanday, 18. Taniela Tupou, 19. Kane Douglas, 20. Adam Korczyk, 21. Nick Frisby, 22. Hamish Stewart, 23. Chris Kuridrani.
Kings: 15. Masixole Banda, 14. Yaw Penxe, 13. Berton Klaasen, 12. Luzuko Vulindlu, 11. Makazole Mapimpi, 10. Lionel Cronje (kapt.), 9. Louis Schreuder, 8. Ruaan Lerm, 7. Tyler Paul, 6. Chris Cloete, 5. Wilhelm van der Sluys, 4. Mzwanele Zito, 3. Justin Forwood, 2. Michael Willemse, 1. Chris Heiberg. Bank: 16. Martin Bezuidenhout, 17. Schalk van der Merwe, 18. Dayan van der Westhuizen, 19. Irne Herbst, 20. Andisa Ntsila, 21. Johan Steyn, 22. Wandile Mjekevu, 23. Pieter-Steyn de Wet.

Afskop: 7:05

Cheetahs moet wys hulle hoort in Superrugby

Wanneer die Cheetahs Saterdagmiddag op die Vrystaatstadion teen die Chiefs uitdraf, sal dit wees om te bewys hulle is geregtig op ’n plek in die Superreeks.

Die enigste manier om dit te doen, is om die Chiefs, wat verlede week teen die Stormers hul eerste wedstryd verloor het, se tjank af te trap.

Franco Smith, afrigter van die Cheetahs, het Niel Marais op losskakel in die plek van Fred Zeilinga gekies, wat afskuif bank toe.

Sergeal Petersen maak op vleuel ’n terugkeer na ’n besering, waar hy Nico Leë vervang, wat na die middelveld skuif in kombinasie met die kaptein Francois Venter.

In die voorry keer Ox Nché en Johan Coetzee terug in die plek van Charles Marais en Tom Botha, wat die bank gaan warm hou.

Spanne –

Cheetahs:15. Clayton Blommetjies, 14. Sergeal Petersen, 13. Francois Venter (kapt.), 12. Nico Lee, 11. Raymond Rhule, 10. Niel Marais, 9. Shaun Venter, 8. Henco Venter, 7. Oupa Mohoje, 6. Paul Schoeman, 5. Carl Wegner, 4. Armandt Koster, 3. Johan Coetzee, 2. Torsten van Jaarsveld, 1. Ox Nché. Bank: 16. Elandre Huggett, 17. Charles Marais, 18. Tom Botha, 19. Francois Uys, 20. Niell Jordaan, 21. Junior Pokomela/Luther Obi, 22. Tian Meyer, 23. Fred Zeilinga.
Chiefs: 15. Damian McKenzie, 14. Toni Pulu, 13. Sam McNicol, 12. Anton Lienert-Brown, 11. James Lowe, 10. Aaron Cruden (mede-kapt.), 9. Tawera Kerr-Barlow, 8. Michael Leitch, 7. Sam Cane (mede-kapt.), 6. Mitchell Brown, 5. Brodie Retallick, 4. Taleni Seu, 3. Atu Moli, 2. Brayden Mitchell, 1. Kane Hames. Bank: 16. Hika Elliot, 17. Siegfried Fisi’ihoi, 18. Sefo Kautai, 19. Dominic Bird, 20. Liam Messam, 21. Finlay Christie, 22. Alex Nankivell, 23. Shaun Stevenson.

Afskop: 15:05

Lions kan maatstaf vir Stormers wees

Die Stormers en die Lions se kragmeting Saterdag op Nuweland kan ’n waterskeiding vir albei spanne wees.

Daar word hoë verwagtinge gekoester van die Stormers, wat vanjaar steeds onoorwonne is sonder dat hulle al teen die Lions gespeel het. Die Lions sal wil wys dat uitstappies Nuweland toe lankal nie meer iets onoorkombaar is nie.

Die goeie nuus vir die Johannesburgers is dat hulle heelagter Andries Coetzee, oor wie se beskikbaarheid vir die wedstryd weens ʼn beseerde dyspier vroeër die week ’n donker wolk gehang het, fiks verklaar is.

Daarby het die Boksenter Lionel Mapoe ook van ’n handbesering herstel en hy sal op buitesenter uitdraf.

Ross Cronjé is die skrumskakel in die beginspan, met die Springbok Faf de Klerk wat homself op die bank bevind.

Die Stormers het Jano Vermaak op skrumskakel gekies, met Godlen Masimla as sy adjudant.

Die Stormers se Springbokslot Pieter-Steph du Toit is ook fiks en sal langs Eben Etzebeth op slot sak.

Johan du Toit, broer van Pieter-Steph, is as plaasvervanger ingesluit na die besering wat die kantman Cobus Wiese verlede week opgedoen het. Nizaam Carr is in Wiese se plek in die beginspan.

Die stut Frans Malherbe bevind hom as deel van die rotasiebeleid in die beginspan, met Wilco Louw wat op die bank sit.

Spanne-

Stormers: 15. SP Marais, 14. Cheslin Kolbe, 13. EW Viljoen, 12. Dan du Plessis, 11. Dillyn Leyds, 10. Robert du Preez, 9. Jano Vermaak, 8. Sikhumbuzo Notshe, 7. Siya Kolisi (kapt.), 6. Nizaam Carr, 5. Pieter-Steph du Toit, 4. Eben Etzebeth, 3. Frans Malherbe, 2. Bongi Mbonambi, 1. JC Janse van Rensburg. Bank: 16. Ramone Samuels, 17. Oli Kebble, 18. Wilco Louw, 19. Jan de Klerk, 20. Johan du Toit, 21. Godlen Masimla, 22. Kurt Coleman, 23. Dan Kriel.
Lions: 15. Andries Coetzee, 14. Madosh Tambwe, 13. Lionel Mapoe, 12. Rohan Janse van Rensburg, 11. Courtnall Skosan, 10. Elton Jantjies, 9. Ross Cronjé, 8. Warren Whiteley (kapt.), 7. Ruan Ackermann, 6. Jaco Kriel, 5. Franco Mostert, 4. Andries Ferreira, 3. Ruan Dreyer, 2. Malcolm Marx, 1. Jacques van Rooyen. Bank: 16. Robbie Coetzee, 17. Corné Fourie, 18. Johannes Jonker, 19. Lourens Erasmus, 20. Kwagga Smith, 21. Faf de Klerk, 22. Harold Vorster, 23. Sylvian Mahuza.

Afskop: 17:15

Dis tyd vir die Bulls om op te staan

Drie Springbok-agterspelers, die heelagter Jesse Kriel en die losskakel Handré Pollard en die skrumskakel Piet van Zyl, en ook die Bokslot Lood de Jager is in die Bulls se beginspan ingesluit wat Saterdag teen die Jaguares op Loftus Versfeld te staan kom.

Hulle het almal verlede week se loesing teen die Sunwolves in Tokio uitgesit.

Die vier Springbokke vervang onderskeidelik vir Warrick Gelant, Tian Schoeman, Jason Jenkins en Rudy Paige wat hulself op die plaasvervangersbank bevind.

Die Pretorianers se diepte op flank is uitgedun, met Arno Botha, Ruan Steenkamp, Roelof Smit en Shaun Adendorff. wat beseer is en Renaldo Bothma wat ’n skorsing vir ’n gevaarlike duikslag uitdien. Hulle sal dus bly wees om die ervare Marnus Schoeman as ’n plaasvervanger op die bank te hê.

Schoeman, wat deur die Pumas gekontrakteer is, het hom vroeër die seisoen as ’n leenspeler by die Stormers aangesluit, maar as gevolg van ’n besering is hy nooit oorweeg nie. Hy het eers vir die Blou Bulle teen Griekwas gespeel en is ʼn Junior Springbok.

Op loskop het die breier Nollis Marais besluit om Pierre Schoeman bo Lizo Gqoboka te kies.

Spanne –

Bulls: 15. Jesse Kriel, 14. Travis Ismaiel, 13. Jan Serfontein, 12. Burger Odendaal, 11. Jamba Ulengo, 10. Handré Pollard, 9. Piet van Zyl, 8. Hanro Liebenberg, 7. Jannes Kirsten, 6. Nick de Jager, 5. Lood de Jager, 4. RG Snyman, 3. Trevor Nyakane, 2. Adriaan Strauss (kapt.), 1. Pierre Schoeman. Bank: 16. Jaco Visagie, 17. Lizo Gqoboka, 18. Martin Dreyer, 19. Jason Jenkins, 20. Marnus Schoeman, 21. Rudy Paige, 22. Tian Schoeman, 23. Warrick Gelant.

Jaguares: Span moet nog aangekondig word.

Afskop: 19:30

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.