SA spanne maak skoonskip in Dallas

SA All Stars – wenner in Dallas. (Foto: Verskaf)

Die Suid-Afrikaanse o.19-spanne wat aan die derde internasionale Dallas-sewestoernooi in Texas, Amerika, deelgeneem het, het eenvoudig skoonskip gemaak.

Hulle het die goue, silwer- én bronsmedalje in die Goue Beker-afdeling by die pas afgelope toernooi gewen.

Die SA All Stars, wat die eerste toernooi in 2016 gewen het, afgerig deur Ludwiche van Deventer, het verlede jaar se wenners, die Warriors, met 38-14 in die bekereindstryd geklop. Laasgenoemde is deur die Maties se sewesafrigter, Ian Campbell-McGeachy, gebrei.

In die bronsmedaljewedstryd het die Rams, ook van Suid-Afrika, die sterk Rhinos Academy-span van Amerika, met 35-14 geklop. Die Amerikaanse span is afgerig deur die gewese All Blacks-sewesspeler en Auckland Blues-ster, Orene Ai’i.

Willem Strauss, die toernooi se promoter, sê die Suid-Afrikaanse spanne se vaardighede het opnuut beïndruk, terwyl hul fisiekgeensins teruggestaan het vir die, soms ouer, Amerikaanse teenstanders nie.

In die Silwerbeker-reeks vir o.17-spanne het die SA Gazelles, afgerig deur Hendrik Ras, in ʼn spannende kragmeting met 21-19 teen die Rhinos se juniors in geseëvier.

Ali Sefole van die SA All Stars is as die speler van die toernooi aangewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.