SA spelers kry 19, 13 en tweekuns in Spanje

Suid-Afrikaanse spelers het die afgelope naweek ʼn sestiental en ʼn dertiental punte sowel as ʼn tweekuns drieë in die Spaanse Liga van Eer op die telbord geplaas.

Die losskakel Noël Marx, wat Vodacombekerrugby vir die Vrystaatse Vyftiental gespeel het, het Saterdag 19 punte vir Barcelona in sy sege van 41-26 oor Completense Cisneros behaal.

Hy het vyf strafdoele en twee doelskoppe deur die pale gejaag.

♦ Hansie Graaff, losskakel van Silverstrom El Salvador, het Sondag ʼn drie gedruk en vier doelskoppe vir ʼn totaal van 13 punte in sy span se oorwinning van 33-10 oor Ampo Ordizia RE aangeteken.

Graaff, wat Curriebekerrugby vir die Griffons en die Suidwestelike Distrikte gespeel het, het homself ook ʼn geel kaart op die hals gehaal.

♦ Juandré Kleynhans (heelagter) het Saterdag twee drieë vir Getxo Artea RT teen Bizkaia Gernika RT gedruk in ʼn kragmeting wat die teenstander met 40-23 gewen het.

Kleynhans het o.21-rugby vir die Griffons gespeel.

♦ JW Bell, wat verlede jaar Superrugby vir die Lions gespeel het, het ʼn drie vir VRAC Quesos Entrepinares gedruk in ʼn wedstryd waarin sy span die teenstander met 55-5 verniel het.

Italiaanse Super 10-liga

♦ Michael Brink, die binnesenter van Reggio, het Saterdag ʼn drie gedruk in sy span se nederlaag van 26-29 teen Lazio in die Italiaanse Super 10-liga.

Brink het die OP Kings verlede jaar in die opstelronde van die Curriebekerreeks verteenwoordig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.