SA spelers se toekoms in Duitse rugby onseker

Die toekoms van die groep Suid-Afrikaners wat Duitse rugby die afgelope paar jaar tot ʼn besondere krag help uitbou het, hang in die weegskaal.

Die Duitse Rugbyunie (DRV) en die borg kon nog nie tot ʼn vergelyk kom om ʼn nuwe kontrak te sluit nie, en die spelers is deur middel van die Vereniging vir die Bevordering van Rugby (GFR) deur die borg en nie deur die unie nie gekontrakteer.

Dieselfde geld die afrigter, Kobus Potgieter, ʼn gewese Tukkie, onder wie se leiding die Duitse nasionale span die afgelope paar jaar van krag tot krag gegaan het.

Die span vol Suid-Afrikaners het onder meer verlede jaar vir die grootste verrassing in die geskiedenis van die Rugby Europabeker (REB) gesorg deur Roemenië te klop, en was goed geplaas om vir die volgende toernooi om die Rugbywêreldbeker in aanmerking te kom toe sake tussen die partye skeef geloop het.

Potgieter is vir die duur van die REB-toernooi, drie maande, as nasionale afrigter deur die Australiër Paul Healy vervang.

Daar is nog geen vergelyk met die spelers getref nie, en die onsekerheid oor hul toekoms duur voort.

Die meeste speel vir die klub Heidelberg, wat intussen opslae in die Europese klubreeks om die Kontinentale Skild maak, waar hulle pas die Italiaanse kampioen, Calvisano, in Heidelberg in die tuisronde van die uitspeelwedstryde geklop het.

Italië is ʼn Sesnasiesland, terwyl Duitsland ʼn vlak laer in die REB-toernooi speel.

Die wegronde in Calvisano lê nou voor en Potgieter, wat die GFR se rugbydirekteur is en Heideberg afrig, verwag ʼn moeilike kragmeting.

“Ons sal egter alles in die stryd werp om te wen,“ het hy aan Pale Toe! gesê.

Die klub wat uiteindelik die skild wen, kom vir aanstaande jaar se reeks om die Europese Uitdaagbeker in aanmerking.

♦ Die opgang wat rugby die afgelope tyd in Duitsland gemaak het, is in ʼn groot mate te danke aan die werk van die Wild-rugbyakademie, wat Hans-Peter Wild in 2007 tot stand gebring het. Hy was die eienaar van die voedsel-en-drankgroep Peter Wild GmbH & Co, wat onder meer die wêreldwyd gewilde Capri-Sonne-vrugtedrankie bemark.

Hy beheer die GFR, en het tot voor die breuk die Duitse nasionale span geborg.

Wild is ook die eienaar en voorsitter van die Franse Top14-klub, Stade Française, wat oor Springbokke soos Gurthrö Steenkamp, Heinke van der Merwe, Willem Alberts, Charl McLeod, Morné Steyn en Meyer Bosman beskik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.