SA sukkel in die Statebond-sewes

Vierde plek en geen medalje nie.

Dít is waarmee Suid-Afrika, die verdedigende kampioen van 2014, Sondag by die Statebondspele van die veld gestap het nadat hulle in die halfeind al uit die staanspoor teen Fidji op die agtervoet was.

Die eerste helfte was ʼn nagmerrie besaai met foute. Die Blitsbokke het egter van 0-19 af teruggeveg, die telling in die tweede helfte na 19-elk omgeskakel en toe kort ná die begin van ekstra speeltyd, ná nóg ʼn fout, die drie afgestaan wat die spel tot ʼn einde gebring het, 24-19.

En toe, in die uitspeel om derde plek teen Engeland wat in húlle halfeind teen Nieu-Seeland verloor het, het die Bokke ʼn rustydvoorsprong van 14-0 weggesmyt en met 14-21 verloor.

♦   Sommer met die intrapslag teen Fidji is ʼn swak aangee in die Blitsbokke se eerste beweging nadat hulle die afskop pragtig bemeester het, opgepik wat 50 meter  verder ʼn drie vir Fidji geword het.

Hanteerfoute, te lank vasklou aan die bal met ondersteuning byderhand en ook sporadiese gevalle van eina-verdediging toe dit saak gemaak het, het dit ʼn dag gemaak wat die Blitse eerder sal wil vergeet.

Die tekens van hul bewese briljantheid was hier en daar sigbaar, maar die gesukkel in die groepronde teen Skotland was reeds ʼn aanduiding dat iets iewers haper. Teen die twee sterker spanne in die uitspeelfase is hierdie swakhede deur die sterker teenstanders, Fidji en Engeland, uitgebuit.

♦  In die eindstryd het Nieu-Seeland, wat in 2014 in die eindstryd teen Suid-Afrika verloor het, die goue medalje gewen. Hulle het Fidji met ʼn drie in die eerste twee minute geskud, skitterend verdedig en die Fidjiane min kans gegee om hul make te maak.

♦  Suid-Afrika se vrouespan, wie se spelpeil sommer baie, baie ver agter die voorste lande is, was soms kopskuddend swak met hulle gebrek aan basiese hanteringvaardighede. Dwars oor die veld hardloop en ʼn gebrekkige verdedigingspatroon het sake verder bemoeilik.

Hulle het in die uitspeel om die sewende en agste plek teen Wallis verloor en laaste in hulle kompetisie geëindig.

♦  Die Nieu-Seelandse vroue het ook die goue medalje gewen deur Australië met 17-12 te klop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Joe Hall ·

Haai foeitog
“Bewese briljantheid” moet seker “gewese briljantheid” wees.
tsk tsk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.