Twee spelers uit Suid-Afrika het Saterdag hul deel bygedra om te help dat die haantjie-afrigter van Samoa sy neerhalende woorde oor die gehalte van sy span se teenstanders vir die November-toetse moet sluk.
Steve Jackson was ewe bitterbek in die media omdat sy span teen “tweedevlaklande” moes speel.
Toe troef Amerika, wat deur die gewese Springbokhulpafrigter Gary Gold gebrei word, vir Samoa in San Sebastián, Spanje, met 30-29 (rustyd 15-14) – die eerste keer dat die Yanks daarin slaag om die Suidsee-eilanders te klop.
Die wenstrafdoel is wel ná die blaas van die eindtoeter behaal, maar dit beteken Amerika het nou nege toetse op die ry af gewen.
Een van die Arende se drieë het gevolg toe Ruben de Haas (skrumskakel) die bal vorentoe geskop het, en Hanco Germishuys (flank) dit opgeraap het om te gaan druk.
De Haas, wat vir die Cheetahs speel, se pa, Pieter, en oupa, Gerard, het albei Curriebeker-rugby in Suid-Afrika gespeel. Germishuys het Griekwas by die o. 13-Cravenweek verteenwoordig.
Dit was laasgenoemde, wat in Amerika die bynaam “Terminator” verwerf het, se sesde drie in nege toetse.
♦ In weerwil van die Maori’s se wentelling van 35-3 Saterdag teen Brasilië in Sao Paulo het die tuisspan lof ingeoes vir sy moedige vertoning teen die gedugte Nieu-Seelanders.
Die besoekers was rustyd net met 14-0 voor.
Devon Muller (21), ʼn oudleerling van Westville Boys’ High, Durban, wat KwaZulu-Natal by die o. 18-Cravenweek verteenwoordig het, het sy buiging as flank vir Brasilië gemaak – die jongste speler in die span.
Hy kom op grond van sy afstamming vir Brasilië in aanmerking.