ʼn Tweetal Suid-Afrikaanse spelers het Sondag meer as die helfte van hul span se punte in sy oorwinning van 43-36 in die Spaanse Liga van Eer behaal.
Andrew Norton (losskakel), wat o. 21-rugby vir die Sharks gespeel het, het 13 punte (vyf doelskoppe en ʼn strafdoel) vir Cisneros teen Hernani behaal; en Richard Stewart (heelagter), ʼn gewese Ikey-speler, het twee drieë vir die wenspan gedruk.
♦ Juandré Kleynhans (heelagter), wat die Griffons op o. 20-vlak verteenwoordig het, het agt punte met ʼn drie en ʼn strafdoel vir Burgos in sy sege van 48-15 oor La Vila behaal.
♦ Nóg twee oud-Vrystaters het drieë in die reeks gedruk: Joubert Engelbrecht (buitesenter) vir Ordizia in sy sege van 55-22 oor Gernika, en Marco Mason (banklosskakel) vir Santboiana in sy nederlaag van 7-55 teen El Salvador.
Engelbrecht het Superrugby en Mason Curriebeker-rugby vir die Cheetahs gespeel.
Engelse Kampioenskap
♦ Roy Godfrey (loskopstut), wat Curriebeker-rugby vir Suidwestelike Distrikte gespeel het, was een van drie spelers van Jersey wat met ʼn geel kaart gestraf is in die klub se nederlaag van 14-19 teen Ealing Trailfinders in die Engelse Kampioenskap.
Jersey word deur die gewese Sharks-onderouderdomspeler Harvey Biljon afgerig. Sy span is nou vierde in die reeks, en Ealing is tweede.