SA vernuf help Yanks druk, maar Maori’s wen ver

Ruben de Haas (Foto: Verskaf)

Vernuftige spel deur ʼn speler met Suid-Afrikaanse wortels het Amerika Saterdag in Chicago gehelp om ʼn drie teen die Maori All Blacks te druk, maar die Nieu-Seelanders was heeltemal te sterk vir die tuisspan.

Hulle het die Arende wat deur Gary Gold, ʼn gewese hulpafrigter van die Springbokke, gebrei word, met 59-22 opgedreun (rustyd 26-8).

Ruben de Haas (bankskrumskakel), wat Pro14-rugby vir die Cheetahs speel, het met knap opvolgwerk en volmaakte tydsberekening gehelp om Cam Dolan vir die Yanks se derde en laaste drie oor te stuur.

Sy pa, Pieter, en oupa, Gerard, was op hul dag tussen Suid-Afrika se voorste Curriebeker-spelers.

Shaun Davies, wat in Durban gebore is, was die Arende se skrumskakel, en Hanco Germishuys (flank) en James Hilterbrand (haker) het van die bank af vir die tuisspan gespeel.

Germishuys het o. 13-rugby vir Griekwas gespeel, en Hilterbrand is ʼn Australiër wat ʼn draai by die Kings gemaak het.

Luidens berigte het die Maori’s die spel uit die staanspoor oorheers, en selfs met 13 man op die veld ʼn drie gaan druk. Hul swak dissipline het tot drie geel kaarte gelei.

In die een geval is Davies dermate in ʼn boorvat beseer dat hy die veld moes verlaat, en in ʼn ander het ʼn moedswillige oortreding Germishuys ʼn moontlike drie gekos.

Laasgenoemde het ʼn sterk impak van die bank af gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.