SA viertal tree na vore met wegholsege in Japan

Vier Suid-Afrikaanse spelers het sterk op die telbord na vore getree in die gewese Springbokafrigter Jake White se span, Toyota Verblitz, se wegholsege van 52-7 oor Munakata Sanix Blues in die jongste ronde van die Japanse Topliga.

Hulle het Vrydag saam 32 punte tot die wentelling bygedra.

Die Bok Gio Aplon (heelagter), twee keer, nóg ʼn Bok, Jason Jenkins (flank), en Clinton Swart (bankvleuel) het agter die doellyn gaan kuier, en Lionel Cronjé (losskakel) het ses van Verblitz se agt drieë verdoel vir 12 punte.

Cronjé het Suid-Afrika A verteenwoordig, en Swart het Superrugby vir die Cheetahs gespeel

♦ Harold Vorster (buitesenter), wat eweneens vir Suid-Afrika A gespeel het, het twee van Panasonic Wildknights se sewe drieë teen Honda Heat gedruk.

Eersgenoemde het die kragmeting met 41-12 gewen.

♦ ʼn Derde Suid-Afrika A-speler, Fred Zeilinga (losskakel), se vier doelskoppe was agt punte werd vir Canon Eagles in sy sege van 43-24 oor Coca-Cola Red Sparks.

♦ Gerhard van den Heever (heelagter) het sewe punte met twee doelskoppe en ʼn strafdoel vir Kubota Spears in sy sege van 22-16 oor Ricoh Black Rams behaal.

Hy het Superrugby vir die Bulls en die Stormers gespeel.

♦ Insgelyks ʼn gewese Suid-Afrika A-speler, Garth April (losskakel), het al drie NTT Shining Arcs se drieë verdoel – vir ses punte – in sy naelskraapse nederlaag van 31-34 teen NEC Green Rockets.

♦ Die oud-Vrystaters Gerrie Labuschagne (linkervleuel), vir Yamaha Jubilo, en Coenie van Wyk (heelagter), vir Toshiba Brave Lupus, het elk ʼn drie gedruk in dié spanne se kragmeting in die reeks.

Jubilo was met 27-7 baas.

Van Wyk was lid van die SA Presidentspan wat Wêreldrugby se Tbilisi-beker in 2013 gewen het, en Labuschagne het die Vyftientalle van die Vrystaat en die Goue Leeus in die SuperSport-reeks verteenwoordig. Hy het Superrugby vir die Cheetahs gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.