SA vyf vir nuwe Force in Wêreldreeks-proeflopie

Peter Grant – heelagter. (Foto: Western Force)

Vyf spelers met Suid-Afrikaanse bande draf Vrydag vir die nuwe Western Force uit in die eerste proeflopie met die oog op die magnaat Andrew Forrest se Wêreldrugbyreeks (WSR) wat vir aanstaande jaar beplan word.

Hy het die voortou met WSR geneem nadat die Force deur die Australiese Rugbyunie (ARU) uit Superrugby gesmyt is.

Die herrese Force speel teen Fidji se Warriors, die Suidsee-eilanders se naasbeste span, wat minder as twee maande gelede die Stille Oseaan-uitdaagreeks gewen het.

Die Springbokveteraan Jacque Fourie, wat die span help afrig, is nie in die wedstrydgroep ingesluit nie.

♦ Die Springboklosskakel Peter Grant speel heelagter teen die Fidjiane.

♦ Die buitesenter Marcel Brache het vir die Stormers uitgedraf en speel toetsrugby vir Amerika.

♦ Die agsteman Brynard Stander het die Sharks-trui in Curriebekerrugby gedra.

♦ Chris Heiberg, die vaskopstut, het Superrugby vir die Stormers gespeel.

♦ Die bankskrumskakel Ryan Louwrens het die Valke se o.19-span verteenwoordig.

Behalwe dié vyftal is daar nóg vier spelers in die 23-tal wat Superrugby vir die Western Force gespeel het, en vier wat ander franchise’e in die reeks verteenwoordig het.

Die meeste van die gekanselleerde franchise se topspelers het egter elders ʼn heenkome gevind.

Naas Grant (vyf toetse) en Brache (sewe) het Rod Davies (Australië) en AJ Alatimu (Samoa) elk in een toets gespeel. Vier ander het Australië o.20 verteenwoordig.

♦ʼn Groot ophef word gemaak van die “eerste” proefneming met ʼn “kragdrie” wat sewe punte tel as die beweging in ʼn span se eie 22-gebied begin en afgerond word sonder dat die bal doodgaan.

ʼn Soortgelyke proefreël – weliswaar met makliker vereistes – is reeds die afgelope drie jaar in die reeks om die Varsitybeker van krag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.