SA-Wallis-toets se promotor in geldpenarie

ʼn Advertensie vir die toets in Washington. (Foto: Twitter)

Die promotor van die beplande Junietoets tussen Suid-Afrika en Wallis in Washington, Amerika, is in ʼn geldpenarie en die kragmeting wat die deelnemers se beurse moet aanvul, kan sy probleme vererger.

Rugby International Marketing (RIM), waarin die Engelse Rugbyunie (RFU), na geraai word, ʼn belang van 10% het, is vroeër op die been gebring om geld vir die niewinsgewende Rugby VSA te verdien.

Bespiegelinge in die Amerikaanse media dui daarop dat ʼn betaling van om en by $750 000 (sowat R9 miljoen) aan elk van Suid-Afrika en Wallis gewaarborg is. Dit sal glo ʼn gelykbreek-skare van 27 000 vereis.

Aanduidings is dat minstens die Springbokke dié toets met hul naasbestes gaan aandurf, omdat die keurbende ʼn week later die Engelse in ʼn reeks van drie toetse in Suid-Afrika behoort te pak. Die vliegafstand verhinder Suid-Afrika om sy beste spelers in albei gevalle in te span.

Gaan die Amerikaanse rugbygeesdriftiges vir die tweede beste val? Of was die Yanks skerp genoeg om Suid-Afrika en Wallis kontraktueel te verbind om hul beste beskikbare spanne te stuur?

In ieder geval, laasgenoemde lyk seker van hul geld, maar die Amerikaanse rugbykongres (bestaande uit tien toetsspelers en verteenwoodigers van al die senior, kollege- en jeugklubs) het ernstige bedenkinge oor die geldelike voordeel daarvan vir rugby in Amerika en die lewensvatbaarheid van RIM.

RIM se enigste deurlopende bedrywigheid, die TV-diens The Rugby Channel, sit met ʼn opgeloopte verlies van $4,2 miljoen (nagenoeg R50 miljoen), word berig.

Die kongres dring daarop aan om voor 30 April ʼn algehele finansiële risiko-ontleding van RIM te sien, sowel as ʼn plan om enige moontlike verlies goed te maak.

Luidens berigte het die kongres die handelsafdeling tot ná die Wêreldbeker-sewestoernooi in Julie in San Francisco tyd gegee om sy geldsake reg te ruk en moontlike ontbinding vry te spring.

Die webwerf Rugby Today berig dat die kongres op sy eie RIM nie kan sluit nie, maar as Amerikaanse rugby se enigste werklike verteenwoordigende liggaam, oefen dit betekenisvolle druk uit.

Minstens een Amerikaanse kommentator voorspel reeds dat die Washingtonse toets op ʼn verlies vir RIM sal uitloop.

Ted Hardy skryf op Americas Rugby News RIM sal gelukkig wees as hy met die sewestoernooi sy koste delg. Hy wil liefs nie eens oor die omvang van die verlies op die toets praat nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.