SA weer Fidji se tier; wen titel eerste keer sedert 2002

 Seabelo Senatla - nuwe rekord. Foto www1skysports.com


Seabelo Senatla – nuwe rekord. Foto www1skysports.com

Die Blitsbokke het Sondagoggend in Wellington die eerste keer sedert 2002 die titel van die Nieu-Seelandse been van Wêreldrugby se sewesreeks gewen toe hulle Fidji oortuigend 26-5 geklop het.

Dit was die tweede keer dat die twee spanne in die toernooi teen mekaar te staan gekom het.

Suid-Afrika het hulle heerskappy van die afgelope aantal toernooie insluitende die 31-12-sege in die groepronde Saterdag met die eindstryd-oorwinning in ʼn stormsterk-wind deeglik onderstreep. Fidji het in die Dubai-toernooi ook teen die Blitse pak gekry, 14-26

Dit was weer aanvallende verdediging wat die eilandmanne ontsenu het. Die groot, aggressiewe maar ook vinnige aanvallers van Fidji is telkens deur die Blitsbokke vasgevat. Hulle het in die proses heelwat omkeerbesit afgestaan en was eenvoudig nie bestand teen die goeie hardlooplyne en ondersteuning wanneer die Springbokke aangeval het nie.

Fidji was na drie minute 5-0 voor, maar Seabelo Senatla het net voor die rustydtoeter gaan druk en Branco du Preez het verdoel.

Die wedstryd was lank nie verby nie, hoewel twee drieë deur Rosko Specman en Ruan Nel – albei net ʼn minuut nadat hulle as plaasvervangers opgekom het – die telling na 19-5 geneem het.

Nel het na die soveelste fout van Fidji ver vir sy tweede drie gehardloop en met die doelskop was die titel Suid-Afrika s’n.

Suid-Afrika se drieë in die eindstryd is gedruk deur Senatla, Specman en Ruan Nel (2) met Justin Geduld (2) en Branco du Preez wat met doelskoppe geslaag het.

♦  In die kwarteind het Suid-Afrika Sondagoggend vir Frankryk 45-0 geklop en toe vir Kanada 21-5 in die halfeind uitgeskakel.

Ander interessanthede –

♦  Toe hulle laas, in 2002 gewen het, was die afrigter Neil Powell nog ʼn groentjie in die Blitsbokke se span.

♦  Suid-Afrika het in die Wellington-toernooi net vier drieë in hulle ses wedstryde afgestaan en het nou na die drie toernooie in die 2016/’17-reeks ʼn batige punteverskil van 428 teenoor Fidji, wat die tweede beste gevaar het, se punteverskil van161.

♦  Met  die oorwinning het die Blitsbokke die gaping op die algehele 2016’17-punteleer na drie van die tien rondes na 12 punte vergroot. Hulle staan nou, na twee oorwinnings en die eindstryd wat hulle in Kaapstad teen Engeland verloor het, op 63 punte. Fidji (51), Engeland (49), Skotland (44) en Nieu-Seeland (39) is die spanne wat naaste aan die Blitse is.

♦  Seabelo Senatla, wat in die toernooi agt drieë gedruk en in die eindstryd Fabian Juries se SA rekord van 179 drieë verbygesteek het, het ʼn verdedigingsglip in die eindstryd gemaak wat tot Fidji se drie gelei het. Maar toe het hy ʼn skitterende drie gaan druk en ook een aangevoer met slim spel met sy binne-aangee na Rosko Specman.

♦  Specman en Branco du Preez het effens skete en daar sal waarskynlik Maandag eers bepaal word of hulle vir aanstaande naweek se toernooi in Sydney slaggereed sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gerhard ·

Ek wil die span geluk wens,maar in besonder Neill Powell,dit is nou n afrigter duisend.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.