SA woema sorg vir eerste in Duitse rugby

Raynor Parkinson – 17 punte. (Foto: Jürgen Kessler/DRV)

Danksy die daadkrag van twee Suid-Afrikaanse afrigters en ʼn tiental spelers met Suid-Afrikaanse wortels het Duitsland aanstaande seisoen die heel eerste keer ʼn klub wat aan die reeks om die Europese Uitdaagbeker deelneem.

Op die koop toe speel hulle op 12 Mei in Bilbao, Spanje, teen die Russiese klub Enisei STM Krasnojarsk in die eindstryd om die Kontinentale Skild, die derde vlak van die Europese klubreekse.

Die Heidelberg-roeiklub (HRK), wat die oudste rugbyklub in Duitsland insluit, het Saterdag in Heidelberg die Roemeense kampioen, Timoşoara Saracens, in hul weeromstryd met 27-15 geklop. Die Roemene het die eerste wedstryd in Timoşoara met 26-20 gewen, sodat die HRK op die totale telling van 47-41 wen.

Saracens het vergeefs die hulp van die Springbok Chester Williams ingeroep om sy span te help slyp. Die klub was in die 2012-2013-seisoen onder sý afrigting ook die Roemeense kampioen.

Raynor Parkinson, ʼn oudlosskakel van die Universiteit van Johannesburg, het 17 van die wenspan se punte met vyf strafdoele en ʼn doelskop behaal.

Die slot Michael Poppmeier, wat die Kaapse klub Valsbaai ʼn paar jaar gelede nog aangevoer het, het die eerste van Heidelberg se twee drieë gedruk.

Jody Rose (losskakel), wat in 2008 vir die Opkomende Springbokke gespeel het, het ʼn strafdoel vir Saracens behaal.

Aan die stuur van die HRK is die gewese Tukkie Kobus Potgieter en sy assistent Pieter Jordaan.

Die druppel gal in Potgieter en sy span se soetste wyn is dat hulle as die kern van die Duitse nasionale span goed op pad Japan toe vir die Wêreldbekertoernooi (WB) was, toe die Duitse Rugbyunie (DRV) met sy hoofborg oorhoops geraak het.

Omdat die afrigters en spelers deur die borg en nie die DRV nie gekontrakteer is, was hulle nie langer vir toetsrugby beskikbaar nie.

Hul plaasvervangers het die een groot toetsnederlaag ná die ander gelei, en dit het die einde van die Duitse WB-droom beteken.

♦ Johan Ackermann se Gloucester sal in die eindstryd van die Europese Uitdaagbeker in Bilbao met die Cardiff Blues kragte meet nadat die Walliesers Saterdag op Cardiff Arms Park die Franse klub Pau met 16-10 getroef het.

♦ In die reeks om die Europese Kampioenebeker het die Ierse provinsie Leinster tot die eindstryd in Bilbao deurgedring. Hy het die Walliese streekspan Scarlets (Llanelli) oortuigend in Dublin met 38-16 geklop.

Sy teenstander word Sondag bepaal wanneer Johann van Graan se Munster in Bordeaux teen die Franse klub Racing 92 te staan kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.